Vandag se sportnuus

Israel Folau. Foto: Facebook.

Rugby:

  • Die afrigter van Tonga se nasionale rugbyspan én voormalige Aussie-agtsteman, Toutai Kefu, het gesê dat dié eilandstaat die bal aan die rol wil sit om vir Israel Folau in hul span vir 2023 se Wêreldbeker te kry.

Die 30-jarige Folau – ’n uitgesproke Christen – is vroeër deur Rugby Australië in die pad gesteek nadat sy inskrywings op sosiale media, oor onder andere homoseksuele persone, ’n storm ontketen het.

Hy sal egter nie onmiddellik vir Tonga kan uitdraf nie, omdat hy reeds internasionale rugby vir Australië gespeel het. Maar as Folau – wat van Tongaanse herkoms is – vir drie jaar nie internasionale rugby speel nie én die eilandmanne se sewesspan by ’n Olimpiese kwalifiserende toernooi verteenwoordig, is sy pad so te sê oop vir die 2023‑skouspel.

  • Intussen sal Suid-Afrika se o. 20-rugbyspan teen Frankryk in die halfeindstryd van die o. 20-Wêreldbeker te staan kom. Chean Roux se spelers het 25 – 17 met Nieu-Seeland afgereken en is tans die enigste onoorwonne span in die toernooi.

Fietsry:

  • Die Tour de France sal vanjaar sonder die voormalige kampioen, Chris Froome, wees, nadat die Brit in ’n ernstige fietsry-ongeluk by die Critérium du Dauphiné betrokke was.

Froome, wat in Kenia gebore is, sou gepoog het om die gewilde wedren vir ’n vyfde keer te wen.

Krieket:

  • David Warner het sy eerste internasionale honderdtal geslaan, nadat hy weens sy betrokkenheid by die balpeuter-skandaal geskors is, toe sy beurt van 107 vir Australië gehelp het om vir Pakistan met 41 lopies te troef.

Mohammed Amir het in dieselfde wedstryd 5/30 geneem, maar sy boulvertoning was nie genoeg om ’n Pakistan-nederlaag te verhoed nie.

  • Vandag pak Indië en Nieu-Seeland mekaar om 11:30 in Nottingham.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leser ·

Wanneer en teen wie verloor ons ons volgende Krieket wedstryd?

Gerda ·

David Warner het al 15 ODI honderdtalle. Waar val julle uit?

Rupert Ashford ·

As daar enige regverdigheid in die wereld oor is, sal die IRR die reels buig dat Folau nog hierdie jaar in Japan vir Tonga in die WB speel as hy beskikbaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.