Vandag se sportnuus

Die heuningbye voorspel dat die Proteas kan wen…maar hou ook Duckworth/Lewis dop. Foto: Verskaf.

Krieket:

  • Hulle was tot dusver verbysterend akkuraat met hul voorspellings en vandag glo die bye van Klein Begin Heuning klaarblyklik dat die Proteas die wa deur die drif teen Nieu-Seeland op Edgbaston kan trek.

Meer bye het op die Proteas se heuningblerts saamgedrom as op dié van die Nieu-Seelanders.

Die moontlikheid bestaan egter ook dat Duckworth/Lewis ’n rol kan speel wanneer Faf du Plessis se span om 11:30 teen Kane Williamson se Kiwi’s kragte meet.

  • In gister se wedstryd het Engeland vir Afganistan met 150 lopies gelooi. Eoin Morgan was in ’n verwoestende bui met die kolf en sy 148 lopies het Engeland in staat gestel om 397/6 in hul toegelate 50 boulbeurte aan te teken.

Hy het met sy 17 sesse AB de Villiers, Chris Gayle en Rohit Sharma – wat almal 16 sesse geslaan het – se rekord vir die meeste sesse in ’n eendagwedstryd verbeter.

Rugby:

  • Die voormalige stut van die Westelike Provinsie en die Stormers, Brok Harris, het sy kontrak by Wallis se Dragons-klubrugbyspan hernieu.

Hy sal nou vir sy sesde seisoen deel van dié Pro14-span se planne wees.

Harris het in 2014 die skuif na Newport gemaak en het verlede seisoen in sy 100ste wedstryd vir die klub uitgedraf toe hulle Clermont Auvergne in die Europese Uitdaagbeker aangevat het.

“Ek is bly die kontrak-formaliteite is uit die pad, nou kan ek op rugby konsentreer,” het hy gesê.

“Daar is hope talent by die Dragons en ek is opgewonde om deel van die span te wees. Hopelik kan my spel tot hul sukses bydra.”

Kevin Anderson het amok by verlede jaar se Wimbledon-toernooi gemaak.(Foto: @Wimbledon, Twitter)

Tennis:

  • Suid-Afrika se voorste tennisspeler, Kevin Anderson, speel vandag in die tweede ronde van die Fever Tree-kampioenskap op Queen’s Club teen Frankryk se Gilles Simon.

Die 33-jarige Anderson het vir Cameron Norrie in die eerste ronde uitgeskakel. Hy het 19 kishoue in dié wedstryd geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.