Die Proteas het die reeks teen die Swart Pette met 1-0 gewen. Reën het gesorg dat geen spel moontlik was op die laaste dag van die derde toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Hamilton nie. Die wedstryd het onbeslis geëindig en daarmee het Suid-Afrika in byna 11 jaar net een wegreeks verloor. Die opgesomde telkaart lyk so:
SA 314 & 80/5
NZ 489 (voorsprong van 175 lopies)
Kane Williamson was speler van die wedstryd na sy 176 lopies.
In die vierde toets tussen Indië en Australië, het Indië met 8 paaltjies geseëvier en ook die reeks met 2-1 beklink. Dit was Indië se vierde reeksoorwinning die seisoen.
Australië 300 & 137
Indië 332 & 106/2 (23.5 bb, teiken was net 106)
Plaaslike krieket
Die Momentum Eendagreeks se eindstryd word Vrydag op Supersportpark in Centurion gespeel. Die tuisspan, die Titans, sal sake teen die Warriors uitspook om die titel.
Tennis
By die Miami Ope lyk van die uitslae in die Vroue Enkelspel se ronde van 16 so:
11 V. Williams wen met 6-3 en 7-6 teen die sewende gekeurde S. Kuznetsova
3 S. Halep seëvier met 4-6, 7-5 en 6-2 oor die 14de gekeurde S. Stosur
In die Mans Enkelspel se ronde van 16:
2 K. Nishikori wen met 6-3, 4-6 en 6-3 teen F. Delbonis
1 S. Wawrinka is in 3 stelle uitgeskakel deur die 16de gekeurde A. Zverev
Gholf
Volgende week word die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta gespeel. Vandeesweek val die fokus in die VSA egter op die Shell Houston Ope, wat more in Texas begin. Die Wêreld se nommer een speler, Dustin Johnson, het hom onttrek aan die toernooi om te rus vir die Meesters.
Motorwedrenne
Na die Australiese Formule 1 GP, verskuif die aksie vir die 2de wedren van die jaar na die Chinese Grand Prix, wat aanstaande week op 9 April in Shanghai plaasvind.
Die volgende Moto GP aksie is in Suid-Amerika, met die Grand Prix van Argentinië wat ook op 9 April afgehandel word.
Superrugby
Die beseringspook is besig om by verskeie van die Superspanne ʼn draai te maak.
In die Stormerskamp sal Seabelo Senatla vir ses weke buite aksie wees weens ʼn voetbesering. Die stut Wilco Louw het ʼn sternumbesering, terwyl die slot JD Schickerling met harsingskudding sit.
Die afrigter van die Lions, Johan Ackerman, het ʼn onveranderde span gekies vir die naweek se kragmeting teen die Sharks.
Varsityrugby
Kom ons loer na die finale Varsitybekerpunteleer waar verlede jaar se kampioenspan, die Pukke, sesde geëindig het.
Sokker
Bafana Bafana en Angola was gisteraand in Oos-Londen in aksie en die wedstryd het met nul elk gelykop geëindig.
Verskeie Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryde is gisteraand in Asië en Suid-Amerika gespeel.
Van die uitslae lyk so:
Australië 2 – 0 Verenigde Arabiese Emirate
Japan 4 – 0 Thailand
Chili 3 – 1 Venezuela
Argentinië se Lionel Messi is vir vier internasionale wedstryde geskors nadat hy beledigende woorde teenoor ʼn assistent-skeidsregter gebruik het in die wedstryd teen Chili.