Vandag se sportnuus

Lloyd Harris. Foto: Facebook.

Tennis:

  • Suid-Afrika se Lloyd Harris, tans 82ste op die wêreldranglys, is deur na die volgende ronde van die Washington Ope nadat hy gister met Ricardas Berankis afgereken het. Die eindtelling was 4-6, 6-3 en 6-1 in die Suid-Afrikaner se guns. Hy kom volgende teen Groot-Brittanje se Kyle Edmund te staan.
  • Kevin Anderson speel later teen Adrian Mannarino in die ronde van 32.
  • Intussen het Groot-Brittanje se Andy Murray aangedui dat hy binnekort weer enkelspeltennis kan speel. Die 32-jarige Brit het vroeër uittrede oorweeg nadat hy ’n heupoperasie ondergaan het. Hy speel egter deesdae dubbelspelwedstryde om sy besering te monitor.

Rugby:

  • Marvin Orie (slot) en André Esterhuizen (senter) het hulle by die Springbokke aangesluit vir die komende toets teen Argentinië in Salta op 10 Augustus. Die Bokke het besluit om in Nieu-Seeland agter te bly om vir dié toets voor te berei. Indien Rassie Erasmus se span die Argentynse toets wen, sal hulle die wenners van vanjaar se verkorte weergawe van die Rugbykampioenskap wees. Die Bokke kon laas in 2009 die destydse Drie Nasies-reeks wen.
  • Dit sal ’n katgeveg in Bloemfontein hierdie Vrydag wees wanneer die Cheetahs die Leeus in die volgende ronde van die Curriebeker aanvat. Die wedstryd skop om 19:15 af.
  • Saterdag pak die Pumas en die Sharks mekaar om 15:00, terwyl die Blou Bulle om 17:15 gasheer vir die Griekwas op Loftus Versfeld speel.

Krieket:

  • Die stoutseun van Engelse krieket, Ben Stokes, sal sy pos as onderkaptein van Engeland se toetsspan vir die komende Reeks om die As teen Australië hervat. Jos Buttler was vir die afgelope paar jaar Joe Root se adjudant nadat Stokes van sy onderkapteinskap gestroop is ná ’n geveg buite ’n nagklub in 2017.
  • Die eerste aflewering in die reeks word Donderdagoggend op Edgbaston afgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heidi ·

Baie Dankie Johan en Maroela Media. Hierdie Sportnuus word uitstekend saamgestel. Doe zoo voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.