Vandag se sportnuus

Rafael Nadal van Spanje hou die trofee vas kort nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Tennis:

* Rafael Nadal van Spanje het vroegoggend in New York in een van die mees epiese eindstryde van die Amerikaanse Ope gewen toe hy die Rus Daniil Medvedev met 7-5, 6-3, 5-7, 4-6, 6-4 geklop het.

* Die marathonstryd het vier uur en 50 minute geduur en die 33-jarige Nadal, wat sy 19de Grand Slam-toernooi-oorwinning behaal het, het met sy 19 Grand Slams tot binne een oorwinning van Roger Federer (20) se rekordgetal gekruip.

* Nadal (33) het ook die naasoudste speler sedert Ken Rosewall (35) geword wat in 1970 die Amerikaanse Ope gewen het.

* Grand Slam-titels: Roger Federer (20), Rafael Nadal (19), Novak Djokovic (16), Pete Sampras (14), Roy Emerson (12).

Krieket:

* Die Australiese krieketspan het op Old Trafford in Manchester die As behou toe hy Engeland met 185 lopies in die vierde toets geklop het.

* Australië (497/8 en 186/6) het aan Engeland (301 en 197) die taak gestel om 383 lopies vir ʼn onwaarskynlike sege in hul tweede kolfbeurt aan te teken. Engeland het byna die hele dag gekolf, maar kon net by 197 lopies uitkom voordat Josh Hazlewood (2/31) die laaste paal laat spat het.

* Die Aussies loop nou met 2-1 in die reeks van vyf toetse voor met die vyfde en laaste toets wat Donderdag begin.

* Steve Smith is as speler van die wedstryd aangewys nadat hy beurte van 211 en 82 aangeteken het. Hy het nou reeds 671 lopies in die reeks aangeteken teen ʼn gemiddeld van 134.20. Hy het 998 balle ontvang en 79 viere en vier sesse gemoker. Sy toetsgemiddeld  is nou 64.81.

Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

Rugby:

* Daar heers kommer in rugbykringe oor die uitwerking wat tifoon Faxia op die Wêreldbekertoernooi kan hê. Die Wallabies moes gister na Tokio gevlieg het, maar moes hul vlug uitstel omdat alle vlugte van Australië na Tokio gekanselleer is. Die Engelse afrigter, Eddie Jones, wat eerstehandse kennis van Japanse toestande het omdat hy lank daar afgerig en gebly het, het reeds planne beraam om sy span binnenshuis te laat oefen omdat die stormsterk winde dit onmoontlik sal maak om buite te oefen.

* Al die spanne het hul laaste voorbereidings die afgelope naweek tuis afgesluit en reis binne die volgende paar dae na Japan. Die spanne wat die beste vertoon het, was die Springbokke, wat reeds verlede week in Japan aangekom het, All Blacks, Engeland en Ierland.

* Die toernooi begin op 20 September wanneer Japan Rusland (12:45) pak.

Die Bokke se eerste wedstryd is op 21 September teen die All Blacks (11:45) en word voorafgegaan deur Australië teen Fidji (06:45) en Frankryk teen Argentinië (09:15).

* Die naweek se uitslae: Suid-Afrika 41, Japan 7; Nieu-Seeland 92, Tonga 7; Australië 34, Samoa 15; Ierland 19, Wallis 10; Skotland 36, Georgië 9; Engeland 37, Italië 0; Namibië 21, Southern Kings 17.

Gholf:

* Paul Casey van Engeland het sy eerste oorwinning in vyf jaar in die Europese gholfreeks behaal toe hy Sondag in Hamburg die Europese Ope met een hou gewen het. Casey (274) het die laaste ronde in 66 houe voltooi en op 14 onder die baansyfer geëindig, een hou voor Skotland se Bob MacIntyre, Duitsland se Bernd Ritthammer en Matthias Schwab van Oostenryk.

* Dit was Casey se tweede oorwinning van 2019 nadat hy die Valspar-kampioenskap in die VSA ook gewen het.

* Suid-Afrika se Louis de Jager (282) was 12de, Jaco van Zyl (284) 16de en Richard Sterne (286) 22ste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartwolf ·

Beste game van die naweek was 0/21 curriebeker, wat ‘n tweede helfte!! Tweede beste game senior Currie beker. Internasionale rugby was maar flou.

Stier ·

Ja hoe was die bulletjies 0/21 ? Fantastiese 2 de helfte. Cheetah’s weer fantastiese eerste helfte.

Swanna ·

Vergeet die tifoon, dit is die swakste wat ek die bolle nog sien speel het en so ook die japs. Die span wat in die wereld bekker gaan op dag vir die japs is glad nie daai span wat daar teen die bokke gespeel het nie so rassie skrik wakker of hierdie was ‘n klug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.