Vandag se sportnuus

Scott Malolua. Foto: (AP Photo/Rick Rycroft)

Rugby

  • Die beseringspook het ʼn draai by Samoa gemaak skaars tien dae voordat die Wêreldbekertoernooi begin. Die skrumskakel Pelefofoga Cowley is nadergetrek nadat Scott Malolua Saterdag in Sydney sy skouer teen die Wallabies ontwrig het. Malolua het sy buiging in die nederlaag van 15-34 gemaak, maar sy WB-drome is nou daarmee heen.
  • Die Engelse rugbybase het ʼn bykomende geelwortel voor die span uitgehang vir die WB-toernooi. Volgens The Guardian sal die hele groep sowat R230 000 (£13,000) elk per wedstryd ontvang, ongeag of hulle daarin speel.
  • As die Engelse die toernooi wen, sal elke speler R4,5 m kry (£250,000). As die span tot die halfeindronde deurdring, sal elke speler ʼn bonus van R555 000 ontvang ($30,722).

Krieket

  • Die Suid-Afrikaanse A-krieketspan is in Thiruvananthapuran, Indië, met die rug teen die muur teen Indië A in die eerste vierdagtoets. Die SA A-span wat slegs 164 in sy eerste beurt aangeteken het, was aan die einde van spel op die derde dag, wat deur reën opgeskort is, op 125/5 in tamatiestraat, nog 25 lopies agter die Indiërs se eerstebeurt-telling van 303.
  • Daar heers veral kommer oor die kolfvertonings van Aiden Markram (0 en 4), Khaya Zondo (6 en 10) en Senuran Muthusamy (12 en 4) wat almal in die toetsspan is vir die komende toetsreeks teen Indië.
  • Chris Gayle (Jamaica Tallawahs) het Dinsdag in Basseterre soos ʼn warrelwind geblaas, maar hy kon sy span nie red in die Karibiese T20-wedstryd teen St. Kitt and Nevits Patriots nie. Gayle het 116 lopies (62 balle, 7 x 4, 10 x 6) gemoker om sy span tot 241/4 in sy 20 boulbeurte te voer, maar St. Kitt het 242/6 in 18.5 boulbeurte aangeteken om met ses paaltjies te wen.
  • Devin Thomas (71) en Evin Lewis (53) het die span op die wenpad geplaas met ʼn aanvangsvennootskap van 85 lopies in slegs 5.3 boulbeurte.

Fietsry

  • Die Nederlandse fietsryer Mathieu van der Poel het Dinsdag die vierde skof van die Toer van Brittanje tussen Gateshead en Kendal gewen.
  • Van der Poel het in 4 uur 23 minute en 8 sekondes gewen en het drie sekondes voor Ben Swift en Amund Jansen geëindig.
  • Daar is net vier skofte oor en Van der Poel is een sekonde algeheel voor die Italianer Matteo Trentin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.