Vandag se sportnuus

Foto: (AP Photo/Trevor Collens)

Rugby:

Die All Black-rugbyspan het sy eerste terugslag by die Wêreldbekertoernooi in Japan beleef toe die 22-jarige groentjie-flank Luke Jacobson weens die nagevolge van harsingskudding onttrek is.

Jacobson, wat reeds drie keer die afgelope 13 maande harsingskudding opgedoen het, het sy kop gestamp toe hy duiksakke vasgehou het voor die Rugbykampioenskaptoets teen die Springbokke in Wellington.

Hy het geen teken daarvan in verlede Saterdag se opwarmtoets teen Tonga getoon nie, maar het van kwaai hoofpyne gekla tydens Dinsdag se oefening. Hy is toe onttrek en word deur Shannon Frizell vervang.

England se Joe Root in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Krieket:

Jos Buttler (64*) het die Engelse krieketspan Donderdag op die Oval van rooi gesigte gespaar op die eerste dag van die vyfde en laaste toets in die reeks om die As teen Australië.

Die Aussies het op 226/8 die hef in die hand gehad nadat Joe Root (57) en Rory Burns (47) skaflik gekolf het, maar die ander kolwers erg kleigetrap het.

Buttler en Jack Leach (10*) het wal gegooi vir 12 boulbeurte en ʼn bietjie aansien aan die Engelse kolfbeurt gegee.

Verkorte telkaart: Engeland 271/8 in 82 boulbeurte (Jos Buttler 64*, Joe Root 57, Rory Burns 47; Mitchell Marsh 4/55, Pat Cummins 2/73, Josh Hazlewood 2/76).

Gholf:

Die onbesonge Callum Shinkwin van Engeland, wat slegs 446ste op gholf se wêreldranglys is, is op 66 houe (ses houe onder die baansyfer) die alleenvoorloper ná die eerste ronde van die KLM Ope wat in Amsterdam beslis word.

Die 26-jarige Shinkwin, wat net agt afsnypunte oorleef het van die 17 toernooie in die Europese reeks waarin hy vanjaar gespeel het, het vyf voëltjies en ʼn arend aangeteken, maar ook op die 5de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Sewe spelers, Chris Paisley, Matthew Southgate, Sam Horsfield, Marc Warren, Gavin Green, Per Langfors en Nicolai Hojgaard, is gesamentlik tweede op 67.

Suid-Afrika se Haydn Porteous (68) is gesamentlik negende, gevolg deur Brandon Stone (70) en Wilco Nienaber, Louis de Jager en George Coetzee (almal op71).

Primoz Roglic. Foto: (AP Photo/Alvaro Barrientos)

Fietsry:

Primoz Roglic van Slowenië het sy algehele voorsprong in die Vuelta a Espana (Spaanse toer) vergroot toe hy tweede in Woensdag se 18de skof agter Sergio Higuita van Colombia geëindig het.

Roglic, wat in 4:33:09 gewen het, is nou 2 minute en 50 sekondes voor Spanje se Alejandro Valverde met net drie skofte oor.

Dit was die 22-jarige Higuita se eerste skofoorwinning in ʼn belangrike toer.

Nairo Quintana (Colombia) het tot die algehele derde posisie afgeskuif.

Suid-Afrika se Louis Meintjies het sewende in Woensdag se skof geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.