Vandag se sportnuus

Steve Smith in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Krieket:

* Warm en droë weer word Woensdag vir Mohali voorspel wanneer Suid-Afrika se krieketspan in die tweede T20-wedstryd teen Indië speel. Die Proteas se eerste van drie T20-wedstryde is Sondag in Dharamsala afgelas vanweë hewige reën wat uitgesak het.

* Engeland se krieketspan het Sondag op die Oval in Londen verlore aansien herwin toe hy die vyfde en laaste toets in die reeks om die As teen Australië met 135 lopies gewen het.

Die reeks het sodoende met 2 – 2 gelykop geëindig, hoewel die Aussies die As behou het.

Australië, wat 399 lopies vir ʼn oorwinning moes aanteken, kon net by 263 lopies uitkom.

Die reeks sal veral onthou word vir die ongelooflike kolfwerk van Steve Smith (774 lopies in slegs sewe kolfbeurte, ʼn gemiddeld van 110.57, 1 196 balle ontvang en 92X4).

Daarteenoor het sy Aussie-spanmaat, die aanvangskolwer David Warner, slegs 95 lopies in tien kolfbeurte aangeteken, wat die minste is sedert die Nieu-Seelander John D’Arcy 135 lopies in tien beurte in 1958 kon bymekaarskraap.

Fietsry:

Primož Roglič van Slowenië het sy eerste belangrike fietstoer gewen ondanks die oorwinning wat die Nederlander Fabio Jakobsen in Sondag se laaste skof van die Vuelta a España in Madrid behaal het.

Roglič het twee minute en 16 sekondes voor Spanje se Antonio Valverde as algehele wenner geëindig.

Roglič het die voortou in die tiende skof tydens die individuele tydtoets gewen.

Sergio Garcia. Foto: (AP Photo/Matt Dunham)

Gholf:

Die Spanjaard Sergio Garcia het Sondag in Amsterdam sy 16de titel in die Europese gholfreeks gewen toe hy Nicolai Højgaard van Denemarke met een hou uitgestof het.

Garcia, wat tot die 43ste posisie op die wêreldranglys afgeskuif het, het die laaste ronde in 69 klaargemaak en het op 270, 18 houe minder as die baansyfer, geëindig.

Dit was Garcia se eerste oorwinning sedert hy in 2018 die Andalusiese Meesters gewen het. Suid-Afrika se George Coetzee (276) was saam 15de, gevolg deur Brandon Stone (280) en Haydn Porteous (286).

Boks:

Tyson Fury, Brittanje se swaargewig-wêreldkampioen, het Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) ’n hele paar benoude oomblikke beleef in sy titelgeveg teen die onervare Otto Wallin van Swede.

Fury het maklik met punte gewen, maar sy regteroogbank is oopgeslaan en hy het 47 steke ontvang om die diep snywond te heg.

Dit het daartoe gelei dat die geveg byna beëindig is. Daar heers nou groot kommer of die wond betyds sal genees voordat Fury in Februarie sy titel teen die Amerikaner Deontay Wilder moet verdedig.

Boonop was Fury se pa briesend en het hy aangedring dat Fury sy “onbeholpe” afrigter, Ben Davison, moet pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.