Vandag se sportnuus

Die amptelike wedstrydbal vir die Wêreldbeker-toernooi. Foto: Japan News-Yomiuri photo

Rugby:

Die SAUK het Maandag bekend gemaak dat hy nie die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan op televisie of oor die radio sal uitsaai nie.

Vuyo Mthembu, die uitsaaier se woordvoerder, het gesê dat daar nie tot ʼn vergelyk oor die uitsaairegte (Multichoice) gekom kon word nie.

In ʼn latere twiet het hy gesê SAUK besef dit is van nasionale belang, maar “dat ons nie ooreenkomste sal aangaan wat nie kommersieel aanvaarbaar is nie”.

Die aanvanklike verklaring is ook gewysig omdat daar met IMG oor die radioregte onderhandel is.

Die toernooi begin Vrydag in Tokio wanneer Japan teen Rusland speel. Die Springbokke speel Saterdag in Jokohama in hul eerste wedstryd teen die All Blacks.

Netbal:

Foto: Johann Meintjies

Die Varsity-netbalspanne van Tuks, Maties en Kovsies het Maandagaand in Pretoria seker daarvan gemaak dat hulle vir komende Maandag se halfeindronde van die reeks kwalifiseer, terwyl die NWU Pukke en Madibaz sake om die vierde plek sal uitspook.

Tuks het Maandagaand in Pretoria sy onoorwonne vertoningslys behou toe hy Kovsies naelskraap met 46-43 geklop het, Maties het UJ met 65-32 verslaan, die Madibaz het TUT met 57-22 geklop en die Pukke het die honderdtal net-net misgeloop toe die span UWK met 99-18 oorrompel het.

Volgende Maandagaand se laaste bepalings in groepronde is: UJ teen UWK (Pretoria); Madibaz teen Pukke (PE); Tuks teen TUT (Pretoria); Kovsies teen Maties (Bloemfontein).

Jongste puntestand (wedstryde gespeel, gewen, verloor, bonuspunte, ligapunte):

  1. Tuks 6-6-0-5-29
  2. Kovsies 6-5-1-5-25
  3. Maties 6-5-1-5-25
  4. NWU Pukke 6-3-3-6-18
  5. Madibaz 6-3-3-3-15
  6. TUT 6-1-5-1-5
  7. UWK 6-1-5-0-4
  8. UJ 6-0-6-1-1

Atletiek:

Carina Horn (Foto: Reg Caldecott/Team SA)

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ʼn tameletjie voordat hy binne die volgende dag of twee sy span vir die komende Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, moet finaliseer.

Dit het gevolg nadat die land se voorste vroue-naelloper, Carina Horn, positief getoets het vir ʼn verbode middel en voorlopig deur die Integriteitskomitee van die Internasionale Atletiekvereniging (IAAF) geskors is.

* Intussen het die Amerikaanse atletiekkeurders hul span van 141 atlete bekend gemaak vir die byeenkoms wat tussen 27 September en 6 Oktober gehou word.

Die 33-jarige veteraan en sesmalige Olimpiese kampioen, Allyson Felix, is vir ʼn rekordgetal negende keer in die span ingesluit en sal aan die 4×400-aflos deelneem, slegs tien maande nadat sy met ʼn keisersnee geboorte gegee het aan haar eersteling.

Justin Gatlin, wat voorheen geskors is vir die gebruik van verbode middels, is ook gekies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

muis ·

Net vir my baie snaaks dat al die sokker wedstryde uitgesaai was met die wereldbeker sokker????????????

Venetia ·

Tuks het teen NWU gespeel Maandag aand nie Kovsies nie.
Tuks 46 -43 NWU
Maties 65-32 UJ
Kovsies 99-18 UWC
TUT 22-57 Madibaz

Anti sokker ondersteuner ·

Ja nee sabc wys net sokker en nogmaals sokker ek is so vies dat sabc nie rugby wys nie boikot sabc waarvoor betaal ons dan tv lisensies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.