Vandag se sportnuus

Rob Howley (links) saam met Warren Gatland. Foto: (Brett Phibbs/New Zealand Herald via AP)

Rugby:

Wallis se rugbyspan is in Japan op sy knieë gedwing aan die vooraand van sy Wêreldbeker‑kragmeting met Georgië nadat Robert Howley, die span se afrigter vir aanvallende spel, huis toe gestuur is vir ’n beweerde oortreding van Wêreldrugby se regulasies betreffende weddenskappe.

Howley (46), wat afrigter Warren Gatland reeds die afgelope 11 jaar bystaan en ook die Rooi Drake by ’n paar geleenthede afgerig het, word deur Stephen Jones vervang.

Howley het reeds in Wallis aangekom en het sy samewerking gegee vir die ondersoek wat die Walliese Rugbyunie nou onderneem.

Howley het Wallis 59 keer verteenwoordig en was ook ’n paar keer die kaptein. Hy was ook op twee Britse en Ierse Leeus-toere.

Krieket:

* Die Suid-Afrikaanse T20-krieketspan sal Woensdag in Mohali hoop dat die weergode saamspeel wanneer die tweede T20-kragmeting met Indië plaasvind.

Die eerste T20-wedstryd van die toer kon Maandag in Dharamsala weens deurdringende reën nie plaasvind nie.

Woensdag se kragmeting, die tweede van drie T20-wedstryde, begin om 15:30.

*Die SA A-span, wat gelaai is met verskeie toetsspelers wat van 3 Oktober af in die komende toetsreeks teen Indië speel, was op die tweede oggend van die tweede vierdagwedstryd teen Indië A met die rug teen die muur nadat net 74 boulbeurte op Dinsdag se eerste dag afgestuur kon word.

Indië A, wat op 233/3 voortgekolf het, het na 86 boulbeurte 280/4 gehad.

Verkorte telkaart: Indië A 280/4 (Shubnam Gill 92, KK Nair 78; Wiaan Mulder 2/34, Lungi Ngidi 1/51).

Carina Horn (Foto: Reg Caldecott/Team SA)

Atletiek:

Atletiek Suid-Afrika het sy span van 31 lede aangewys vir die komende Wêreldkampioenskappe in Doha, Katar.

Carina Horn, wat tydelik geskors is vir die gebruik van verbode middels, en Wayde van Niekerk, wat nog herstel van ʼn besering, is nie ingesluit nie. Die span sluit net vyf vroue-atlete in.

Die span is: Mans: Akani Simbine (100 m‚ 4×100 m)‚ Thando Dlodlo (100 m‚ 4×100 m)‚ Simon Magakwe (100 m‚ 4×100 m)‚ Clarence Munyai (200 m‚ 4×100 m)‚ Anaso Jobodwana (200 m‚ 4×100 m)‚ Chederick van Wyk (4×100 m)‚ Antonio Alkana (110 m-hekkies, 4×100 m)‚ Derick Mokaleng (400 m‚ 4×400 m)‚ Thapelo Phora (400 m‚ 4×400 m)‚ Gardeo Isaacs (4×400 m)‚ Ashley Hlungwane (4×400 m)‚ Ranti Dikgale (4×400 m)‚ Lindsey Hanekom (400 m-hekkies, 4×400 m)‚ Tshepo Tshite (800 m)‚ Rantso Mokopane (3 000 m), Stephen Mokoka (marathon)‚ Desmond Mokgobu (marathon)‚ Thabiso Moeng (marathon)‚ David Manja (marathon, plaasvervanger)‚ Ruan de Vries (110 m-hekkies, Wayne Snyman (20 km-stap)‚ Marc Mundell (50 km-stap)‚ Zarck Visser (hoogspring), Luvo Manyonga (hoogspring), Ruswahl Samaai (verspring), Orazio Cremona (gewigstoot).  Vroue: Tebogo Mamathu (100 m)‚ Dominique Scott (5 000 m/10 000 m)‚ Rikenette Steenkamp (110 m-hekkies)‚ Zeney van der Walt (400 m-hekkies), Sunette Viljoen (spiesgooi).

Sokker:

Liverpool se sokkerspan, wat verlede seisoen die Europese Kampioeneliga gewen het, het dié seisoen se reeks op ʼn laagtepunt afgeskop toe hy Dinsdagaand met 2 – 0 deur Napoli geklop is ná twee doodsnikdoele deur Dries Mertens en Fernando Llorenti.

Dit was die eerste keer sedert 1994 (AC Milan) dat die vorige seisoen se kampioenspan in die eerste ronde van die nuwe seisoen geklop is. Chelsea is met 1 – 0 deur Valencia verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.