Vandag se sportnuus

Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Rugby:

  • Skotland en Samoa pak mekaar vandag op die Kobe Misaki-stadion in hul Wêreldbeker-kragmeting. Die wedstryd skop om 12:15 Suid-Afrikaanse tyd af.
  • Wallis het Australië Sondag met 29-25 geklop in hul Wêreldbeker-kragmeting. Georgië het vroeër die dag met 33-7 oor Uruguay afgereken.
  • Die Springbokke het Saterdag vir Namibië met 57-3 in hul Wêreldbeker-wedstryd in Japan ore aangesit. Japan het Ierland met 19-12 afgeransel en Argentinië het Tonga met 28-12 geklop.
  • In die Pro14 het die Vrystaatse Cheetahs die Glasgow Warriors met 48-14 geklop terwyl die Kings met 31-27 teen die Cardiff Blues vasgeval het. Edinburgh het met 50-15 oor Zebre koning gekraai terwyl Benetton Rugby met 32-27 teen Leinster vasgeval het. Die Llanelli Scarlets het Connacht met 18-10 gewen en Munster het die Dragons met 39-9 verslaan.

Gholf:

Suid-Afrika se Zander Lombard en Dean Burmester het albei onder die voorste 35 geëindig in die Alfred Dunhill Links-gholftoernooi by St. Andrews Sondag. Lombard het gesamentlik 26ste geëindig en ʼn tjek van net meer as R660 000 vir sy moeite ontvang terwyl Burmester 34ste geëindig het en met net meer as R520 000 huis toe is.

Mads Pedersen vier sy oorwinning. Foto: (AP Photo/Manu Fernandez)

Fietsry:

Die Deense fietsryer Mads Pedersen het Sondag die mansren op die Wêreldpadfiets-kampioenskapsreeks in Engeland gewen. Die Italianer Matteo Trentin was tweede terwyl die Switser Stefan Küng derde was.

Formule Een:

Lewis Hamilton (Mercedes) het Sondag die Russiese Grand Prix in Sotsji gewen. Hamilton se spanmaat, Valtteri Bottas, was tweede, gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari), Max Verstappen (Red Bull), Alexander Albon (Red Bull) en Carlos Sainz (McLaren).

Krieket:

Die Suid-Afrikaanse krieketspan kom Woensdag in hul eerste toets teen Indië te staan. Suid-Afrika het sy driedaagse opwarmingswedstryd teen die Indiese Presidents-elftal gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter

Geen nuus van wêrelbekeratletiek nie?