Vandag se sportnuus

Die Proteas speel tans teen Indië. Foto: Twitter.

Krieket:

Die eerste kriekettoets tussen Suid-Afrika en Indië het vanoggend in Visakhapatam begin.

Die Proteas, wat sonder die dienste van Hashim Amla, AB de Villiers, Dale Steyn en JP Duminy is, boul eerste nadat die tuisspan die loot gewen het.

Enoch Nkwe het drie draaibalboulers in Senuran Muthusamy, Keshav Maharaj en Dane Piedt gekies.

Die Indiërs se openingskolwers, Mayank Agarwal en Rohit Sharma, het goed begin en ná 30 boulbeurte het hulle 91 lopies opgestapel.

  • Suid-Afrika: Aiden Markram, Dean Elgar, Theunis de Bruyn, Temba Bavuma, Faf du Plessis (kaptein), Quinton de Kock, Senuran Muthusamy, Keshav Maharaj, Dane Piedt, Kagiso Rabada.

Rugby:

In vandag se Wêreldbeker-aksie speel Frankryk en die VSA om 09:45 teen mekaar, terwyl die All Blacks om 12:45 met Kanada kragte meet.

Japan se Yu Tamura is die voorste puntemaker in die toernooi. Hy het tot dusver 22 punte aangeteken.

Argentinië se Julian Montoya (20), Italië se Tommaso Allan (20), Uruguay se Felipe Bercheis (17) en Wallis se Dan Biggar (16) voltooi die top-vyf.

Intussen sal Damian Willemse môre by die Springbokgroep aansluit. Hy vervang die beseerde Jesse Kriel.

Thomas du Toit is reeds geruime tyd in Japan. Hy is ’n plaasvervanger vir Trevor Nyakane.

Atletiek:

Noah Lyles van die VSA het gisteraand die 200 m-finaal op die Wêreldkampioenskap in Doha gewen.

Sy tyd was 19,83 sekondes. Andre de Grasse (19.,95 sekondes) en Alen Quinonez (19,98 sekondes) was die ander medaljewenners.

Suid-Afrika se Thapelo Phora het vir die halfeindstryd van die 400 m gekwalifiseer. Hy het ’n tyd van 45,45 sekondes in die uitdunrondes gehardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.