Vandag se sportnuus

Francois Louw. Foto: Springboks/Twitter

Rugby:

  • Die man wat in drie agtereenvolgende Wêreldbeker-rugbytoernooie vir Suid-Afrika gespeel het, Francois Louw (34), het sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig.

Die hardwerkende losvoorspeler het vir die Springbokke in die 2011-, 2015- en 2019-toernooi gespeel en het ’n goue- en bronsmedalje saam met die span gewen.

Louw het sy debuut in die Pieter de Villiers-era in 2010 teen Wallis gemaak en hy het uiteindelik 76 toetse vir die Bokke gespeel.

“Internasionale rugby was ’n ongelooflike avontuur vir my gewees. Ek het lewenslange vriendskappe gesmee en herinneringe gemaak wat vir altyd by my sal bly,” het hy gesê.

“Om my internasionale loopbaan met die Bokke se Trofee-toer af te sluit en om die ondersteuners se opgewondenheid te sien, is die perfekte manier om tot siens te sê.”

Rassie Erasmus het op sy beurt gesê dat Louw ’n regte vuurvreter onder die losvoorspelers was.

“Hy was altyd gereed vir aksie en het nooit van enige situasie weggeskram nie. Hy was die tipe speler wat jy altyd langs jou sy wou gehad het,” het Erasmus gesê.

Krieket:

  • In gister se twee Mzansi Superliga-wedstryde het die Paarl Rocks vir die Cape Town Blitz met 86 lopies gelooi, terwyl die Nelson Mandela Bay Giants met 24 lopies teen die Jozi Stars baas was.

Faf du Plessis en Kie. het die Cape Town Blitz-span vir net 84 lopies uitgeknikker nadat hulle vroeër 170/9 in hul toegelate 20 boulbeurte geslaan het.

Tabraiz Shamsi (3/16) was die grootste doring in die Kaapstad-span se vlees.

Sokker:

  • In Engelse Premierliga-sokkernuus het Liverpool vir Manchester City met 3-1 op Anfield geklop.

Die span is tot dusver onoorwonne in die toernooi en is op koers om hul eerste Premierliga-titel in 30 jaar te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Werner ·

FLO moes destyds die Stormers se kaptein geword het en daarna die Bokkaptein, maar ons weet hoekom dit nooit gebeur het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.