Vandag se sportnuus

Suid-Afrikaanse krieket sukkel. Op en langs die veld. (AP Photo/Mahesh Kumar A.)

Krieket:

  • Die voormalige Protea-kaptein en krieket‑administrateur, dr. Ali Bacher, het gevra dat Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, onmiddellik moet bedank.

Moroe is veral in die spervuur nadat hy die wedstryd-akkreditasie van vyf uitgesproke krieketjoernaliste vir die afgelope Sondag se Mzansi Superliga-wedstryde herroep het.

Bacher was van 1981 tot 2003 in verskeie hoedanighede as krieket‑administrateur betrokke.

“Ná die afloop van die 2003‑Wêreldbeker-kriekettoernooi het ek besluit om nie meer in te meng by die bestuur van Suid-Afrikaanse krieket nie,” het Bacher gesê.

“Tog het die onlangse verwikkelinge my genoop om my stilswye te verbreek en ek wil my ernstige kommer oor die huidige stand van administrasie in Suid-Afrikaanse krieket uitspreek.

“Die huidige uitvoerende hoof is soos ’n vis op droë grond en ek beveel dit ten sterkste aan dat hy sy bedanking onmiddellik indien. Dit sal in die beste belang van Suid-Afrikaanse krieket wees.”

Thabang Moroe. Foto: KSA se Twitter-rekening.

Die beleërde Moroe het wel om verskoning vir die akkreditasie-fiasko gevra, maar daadwerklike optrede is nodig om Suid-Afrikaanse krieket reg te ruk.

Met die eerste toets teen Engeland om die draai, is die keurpaneel en afrigterskorps nog nie finaal bevestig nie. KSA sloer ook met die aanstelling van ’n direkteur van krieket.

Volgens Bacher is Faf du Plessis (Protea-kaptein) se insette nie gevra toe daar ’n tydelike afrigter gekies is nie.

Enoch Nkwe het die span as tydelike afrigter na Indië vergesel. Hoewel die Proteas gelykop in die T20-reeks gespeel het, is hulle 3 – 0 in die toetsreeks opgedons.

Suid-Afrika is tans laaste op die toetskampioenskap se ranglys.

  • In gister se Mzansi Superliga het die Durban Heat vir die Paarl Rocks met ses paaltjies geklop. Die Durbaniete moes 196 lopies vir ’n oorwinning aangeteken het.

Rugby:

  • Die o. 19-Springbokke speel vanoggend teen Georgië. Die jong Bokkies het die eerste wedstryd met 28 – 21 gewen.
  • o.19-Springbokke: Muzi Manyike (heelagter), Keenan Twigg (regtervleuel), Diego Appollis (buitesenter), Rynhardt Jonker (kaptein en binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Ethan Wentzel (losskakel), Thomas Bursey (skrumskakel), Werner Gouws (agtsteman), Morne Brandon (flank), Thabo Ndimande (flank), Dylan de Leeuw (slot), Werner Coetzee (slot), Siphekahle Dube (stut), Jason Alexander (haker) en Thabiso Mdeltshe (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MH ·

Ek is bevrees mnr Bacher mors sy asem. Om ‘n volslae mislukking te wees is geen rede vir ‘n ANC kader om te bedank nie.

Nelia van Zyl ·

Ditto MH. In hierdie land hoef jy net ‘n kader te wees, geen kundigheid word vereis vir top posisies nie. En jy kan dtoogmaak soos jy wil – sonder enige verantwoordelikheid.

Ag Ja! ·

Faf mors sy tyd by KSA. Maak soos AB. Geniet eerder jou krieket as om in n kookpot te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.