Vandag se sportnuus

Rosko Specman (Argieffoto: Facebook)

Rugby:

  • Dit het maar moeilik begin, maar die Blitsbokke het Kenia met 17-12 in die openingswedstryd van die Dubai-sewestoernooi geklop.

Neil Powell se span was rustyd met 5-12 agter, maar twee goeie drieë deur Rosko Specman en Seabelo Senatla het die wa deur die drif vir die Suid-Afrikaners getrek.

Hulle speel vandag teen Spanje (11:46) en teen Engeland (17:42).

  • Dan het die SA Akademiespan sy eerste twee wedstryde op ’n drafstap in Dubai gewen.

Die span, wat met brekers soos Cecil Afrika en Stedman Gans spog, het onderskeidelik 46-0 met die Rambling Jesters en 22-0 met die Franse militêre span afgereken.

  • Die o.19-Springbokke het hul tweede wedstryd teen Georgië se o.19’s met 40-33 gewen.
  • Die voormalige losvoorspeler van die Haaie, Jean-Luc du Preez, is vir drie weke geskors ná sy rooi kaart teen Worcester in die Engelse Premierliga.

Die 24-jarige, wat deesdae vir Sale Sharks speel, het Worcester se Graham Kitchener met sy skouer getref.

Gholf:

  • Suid-Afrika se Brandon Stone is in die gesamentlike eerste plek by die Mauritius Ope ná sy goeie ronde van 66 (ses houe onder die baansyfer).

Ander Suid-Afrikaners soos Christiaan Bezuidenhout en Zander Lombard is kort op die voorlopers se hakke.

Krieket:

  • Die wedstryd tussen die Tshwane Spartans en die Jozi Stars het gister op SuperSportpark uitgereën.

Vier van die Spartans se wedstryde is al weens reënweer afgelas en dit beteken dat Sondag se kragmeting teen die Cape Town Blitz eintlik ’n uitklopwedstryd is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.