Vandag se sportnuus

Seabelo Senatla. Argieffoto..

Rugby:

  • Hy spog met meer as 220 drieë op die internasionale sewesverhoog. Nou steek Seabelo Senatla ook voelers na die wynbedryf uit.

Die 26-jarige blits het sy eie wynreeks, Glory, bekendgestel in samewerking met Idiom in Somerset-Wes.

Volgens Senatla kom Idiom gereeld met nuwe wynidees vorendag en hoewel hulle aanvanklik nie té gretig was met die nuwe konsep nie, was hy beïndruk met die idee.

“Om sewe kultivars te meng is nogal ’n tydsame proses en jy moet baie werk insit om die beste smaak te kry. Dit het ’n bietjie tyd geneem, maar ons het dit reggekry,” het Senatla gesê.

  • Die Blitsbokke speel die naweek in die Kaapstad-sewestoernooi. Neil Powell se span het verlede week die Dubai-toernooi gewen.

Krieket:

  • Graeme Smith het gister die pos aanvaar as Krieket Suid-Afrika se tydelike direkteur van krieket.

Die 38-jarige oudkaptein van die Proteas kon net ’n kontrak van drie maande teken omdat hy reeds kommentator-verpligtinge met die Indiese Premierliga het.

“Ek het al ’n hele paar keer gesê dat ek graag vir KSA in hierdie moeilike tyd wil bystaan. Ek is steeds so passievol soos altyd oor Suid-Afrikaanse krieket en sien uit daarna om my moue op te rol en te begin werk,” het Smith gesê.

Die tydelike uitvoerende hoof, dr. Jacques Faul, is in sy noppies met Smith se aanstelling.

“Graeme is ’n natuurlike leier en sy kennis van die spel is verstommend. Om hom deel te hê van die KSA-struktuur is ’n broodnodige adrenalien-inspuiting vir die beheerliggaam,” het Faul gesê.

Smith kan die Protea-afrigterspan aanwys en dit sal interessant wees om te sien of Enoch Nkwe in sy rol as tydelike afrigter aanbly.

Gholf:

  • Ernie Els se internasionale span loop tans voor teen die sterbelaaide Amerikaanse span van Tiger Woods in die Presidentebeker.

Die internasionale span geniet tans ’n voorsprong van 4-1 ná die openingsrondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.