Vandag se sportnuus

Beast Mtawarira. (Foto GB Jordaan)

Rugby:

  • Die Springbokke se veteraan Zimbabwiese stut, Tendai Mtawarira, sal sy rugbyloopbaan in die VSA voortsit. Die 34-jarige Mtawarira het 117 toetse vir Suid-Afrika gespeel en het ’n sleutelrol in die Bokke se Wêreldbeker-triomf in Japan gespeel.

Hy het egter direk ná die afloop van die toernooi sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig, terwyl hy ook aangedui het dat hy die Haaie sal verlaat.

Mtawarira sal voortaan vir Old Glory DC in Amerika se Major League Rugby speel. Nodeloos om te sê is Amerikaanse rugbyliefhebbers baie opgewonde oor ‘Beast’ se nuwe avontuur.

Op sy beurt sien Mtawarira ’n geleentheid om rugby as ’n sport in die VSA te bemark.

“Ek wil na ’n plek gaan waar ek ’n positiewe impak op mense se lewens kan maak. Ek wil ’n rolmodel wees en vir mense meer oor my geliefde sportsoort leer,” het hy gesê.

  • Intussen is dit bevestig dat die voormalige Sharks-afrigter, John Plumtree, voortaan die All Blacks se voorspeler-afrigter sal wees.

Jason Holland sal sy rol as die Hurricanes se hoofafrigter oorneem.

Krieket:

  • ’n Lastige sy-besering het gesorg dat Dale Steyn eers sy Big Bash-buiging hierdie Sondag vir die Melbourne Stars teen David Miller se Hobart Hurricanes sal maak.

Die 36-jarige Steyn het die besering in die Mzansi Superliga opgedoen en die Stars het besluit om as voorsorgmaatreël hom uit hul span vir hul openingswedstryd teen Brisbane Heat te laat.

Sokker:

  • Die La Liga-wedstryd tussen die Spaanse sokkerreuse Real Madrid en Barcelona het met 0-0 gelykop geëindig.

Madrid het egter beter sokker gespeel en het voor rustyd reeds 12 onsuksesvolle pogings gehad om ’n doel aan te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Van Riebeeck ·

Jip – gee vir ander ouens ‘n kans – hoog tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.