Vandag se sportnuus

Handré Pollard gedurende ’n mediakonferensie in Frankryk. Foto: Twitter.

Rugby:

  • Die Springbokke se superster-losskakel, Handré Pollard, sal Saterdag sy Franse debuut vir Montpellier maak wanneer hulle Racing92 in die Top 14-kompetisie aanvat.

Pollard het 22 punte vir die Bokke in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland aangeteken. Hy het die wedstryd met ’n gebreekte wangbeen voltooi.

“Dit was wonderlik om die Wêreldbeker saam met die Springbokke te wen. Ek sal altyd opgewonde en trots wees wanneer ek daaraan dink, maar nou wil ek ’n titel saam met Montpellier wen. Ek sê weer, ek wil ’n beker wen,” het hy gesê.

Montpellier is tans vierde in die kompetisie.

  • Volgens mediaberigte kan Israel Folau moontlik league-rugby vir ’n New Yorkse span speel.

Die 30-jarige Folau se kontrak is vroeër vanjaar deur Rugby Australië beëindig ná sy inskrywing op sosiale media, maar die twee partye het intussen ’n skikkingsooreenkoms bereik.

Krieket:

  • Die Proteas sal vir die eerste toets teen Engeland sonder die dienste van Temba Bavuma wees.

Die 29-jarige Bavuma het ’n heupspierbesering opgedoen en sal vir ’n paar dae op die krukkelys wees.

Die toets begin op 26 Desember en sal Mark Boucher se debuut as hoofafrigter van die Proteas wees.

Tennis:

  • Die liefdadigheidswedstryd tussen Roger Federer en Rafael Nadal op 7 Februarie sal om 19:30 begin.

Federer vat saam met Bill Gates vir Nadal en Trevor Noah in ’n dubbelspelwedstryd aan, waarna die groot enkelspel-kragmeting om 20:30 begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.