Vandag se sportnuus

Chris Morris (Foto: Twitter)

Krieket:

  • Hy mag dalk nie té gereeld speelkans vir die Proteas kry nie, maar Chris Morris is duidelik ’n waardevolle speler oorsee.

Die 32-jarige veelsydige speler is vir ongeveer R20 miljoen deur Bangalore Royal Challengers vir volgende jaar se Indiese Premierliga (IPL) opgeraap. Hy het vroeër vir die Chennai Super Kings en vir Delhi gespeel.

  • Intussen maak Dale Steyn ook ’n meer permanente terugkeer tot die IPL. Hy is vir R4 miljoen deur die einste Bangalore-span opgeraap. Steyn het vanjaar net twee wedstryde vir die Challengers gespeel nadat hy sy skouer weer seergemaak het. Hy het ook die Proteas se rampspoedige Wêreldbeker-veldtog misgeloop.
  • Die opwarmingswedstryd tussen die Engelse toerspan en Suid-Afrika A het onbeslis in Benoni geëindig.

Engeland het eerste gekolf en hul beurt op 456/7 verklaar. Joe Denly (103) en Ollie Pope (132) het honderdtalle geslaan, maar Joe Root is vir net 12 lopies uitgehaal.

In die Suid-Afrikaners se beurt het Kyle Verreynne net sy potensiaal as toekomstige Protea-speler onderstreep deur ’n blitsige 74 aan te teken. Sy aggressiewe beurt het 11 viere en ’n ses ingesluit.

Keegan Peterson het 111 lopies vir die Suid-Afrikaners geslaan.

  • Die eerste toets tussen die Proteas en Engeland begin Donderdag op SuperSportpark in Centurion.

Rugby:

  • Die Curriebeker is op soek na ’n nuwe borg nadat DirectAxis besluit het om nie sy borgskap vir die komende seisoen te hernieu nie.
  • Die voormalige Stormers-slot Quinn Roux het die afgelope naweek sy 100ste wedstryd vir Connacht gespeel. Hy het al in 12 toetse vir Ierland uitgedraf.
  • Handré Pollard se Montpellier het met 29-25 teen Racing 92 die afgelope naweek verloor. Die Suid-Afrikaanse losskakel was weliswaar in die kol met twee strafskoppe en twee doelskoppe, maar drie van sy stelskoppogings was onsuksesvol.

“Ek is altyd teleurgesteld wanneer ek mis skop. Daar was ’n paar moeilikes in die wedstryd, maar ek verwag van myself om hulle oor die dwarslat te klits,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.