Vandag se sportnuus

Ruan Pienaar (Foto: Ulster Rugby)

Rugby:

  • Sy internasionale loopbaan mag dalk nie heeltemal vlamgevat het nie, maar Ruan Pienaar het ’n skitterende tydperk vir Ulster in Ierland gehad.

Die Bloemfonteinse skrumskakel het 141 wedstryde vir die Ierse span gespeel en het 877 punte vir hulle aangeteken. Hy is onlangs in die Pro14-span van die dekade ingesluit.

Pro14-span van die afgelope 10 jaar: Isa Nacewa (heelagter), Tommy Bowe (regtervleuel), Jonathan Davies (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), Shane Williams (linkervleuel), Jonathan Sexton (losskakel), Ruan Pienaar (skrumskakel), John Muldoon (agsteman), Hamish Watson (flank), John Barclay (flank), Alun Wyn Jones (slot), Leone Nakarawa (slot), John Afoa (stut), Leonardo Ghiraldini (haker), Gethin Jenkins (stut).

  • Die Cheetahs en die Kings sal die naweek hul Pro14-avonture hervat wanneer hulle hul eerste wedstryde vir 2020 speel.

Die Vrystaters speel Saterdag om 17:00 teen Zebre, terwyl die Oos-Kapenaars om 21:45 teen Edinburgh sal kragte meet.

Krieket:

  • Die voormalige Klerksdorper Marnus Labuschagne is die voorste lopiemaker in 2019 se toetskalenderjaar. Die 25-jarige het 1 104 lopies teen ’n gemiddeld van 64,9 geslaan.

Sy Aussie-spanmaat Steve Smith is no. 2 op die lys met 965 lopies teen ’n gemiddeld van 74,2 lopies per beurt.

Quinton de Kock is die enigste Suid-Afrikaner onder die top-10-lopiemakers van die afgelope jaar. Die Protea-paaltjiewagter het 713 lopies in 15 toetsbeurte die afgelope jaar geslaan.

Tennis:

  • Oor 36 dae sal Rafael Nadal en Roger Federer in Kaapstad kragte meet. Hoewel kaartjies soos soetkoek verkoop het, is die goeie nuus dat SuperSport die wedstryd regstreeks sal uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.