Vandag se sportnuus

nelson-mandela-en-francois-pienaar

Nelson Mandela en Francois Pienaar. Argieffoto.

Rugby:

  • Die eerste Suid-Afrikaanse kaptein om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, Francois Pienaar, het gister sy 53ste verjaardag gevier.

Pienaar was aan die stuur van die Springbokke toe hulle Nieu-Seeland in die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 met 15 – 12 op ’n volgepakte Ellispark geklop het.

Die nommersesflank het sy Bokdebuut in 1993 gemaak en het in 1996 sy laaste wedstryd vir die span gespeel. Hy het sy loopbaan by Saracens in Engeland afgesluit.

  • Faf de Klerk en Coenie Oosthuizen sal weens beserings nie vandag vir die Sale Sharks teen Harlequins in die Engelse Premierliga uitdraf nie.

De Klerk het ’n kniebesering opgedoen, terwyl Oosthuizen las van ’n enkelbesering het.

Krieket:

  • Die Protea-kaptein, Faf du Plessis, het bevestig dat Pieter Malan sy toetsbuiging vandag teen Engeland op Nuweland sal maak, terwyl Rassie van der Dussen nog ’n kans in die middelorde sal kry.

Dít ten spyte van die feit dat Temba Bavuma weer wedstrydfiks verklaar is. Hoewel Bavuma se uitsluiting die transformasieteikens ietwat deurmekaar krap, het die 29-jarige kolwer ’n moeilike tyd met die kolf gehad.

In sy laaste 12 beurte het hy nie ’n enkele vyftigtal aangeteken nie.

  • Intussen sal Suid-Afrika se beste veelsydige speler, Vernon Philander, sy laaste toets op sy geliefde Nuweland speel.

Philander het destyds sy toetsbuiging teen die Aussies op die einste veld gemaak en sy skitterende 5/15 het gesorg dat die Australiërs vir 47 uitgeknikker is.

  • Op die beseringsfront lyk dinge ook nie baie goed vir die Engelse toerspan nie. Hul openingskolwer, Rory Burns, sal die res van die toer misloop nadat hy sy enkel beseer het terwyl die span sokker gespeel het.

Zak Crawley sal hom waarskynlik in die elftal vervang.

  • In Australië het Marnus Labuschagne weer eens die Nieu-Seelandse boulers gekasty. Hy het tans ’n onoorwonne 130 lopies in die Aussies se eerste beurt aangeteken.

Die voormalige Klerksdorper was die voorste lopiemaker in die 2019-toetsjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.