Vandag se sportnuus

James Anderson. Foto: (AP Photo/Ricardo Mazalan)

Krieket:

  • Die snelbouler met die meeste toetspaaltjies in wêreldkrieket, Engeland se James Anderson, sal die res van die toetsreeks teen Suid-Afrika weens ’n ribbesering misloop.

Die 37-jarige Anderson het die oudste Engelse snelbouler geword om vyf paaltjies in ’n beurt te laat kantel, toe hy 5/40 in die Proteas se eerste beurt op Nuweland geneem het.

Die besering is ’n reuseterugslag vir die buierige snelbouler – hy het pas sy terugkeer tot toetskrieket gemaak nadat ’n kuitbesering gesorg het dat hy die Reeks om die As misgeloop het.

“Dis uiters frustrerend om die res van die reeks weens ’n gekraakte rib mis te loop, maar hopelik sal ek sommer gou weer terug in aksie wees. Sal die ouens beslis vanaf die huis ondersteun!” het hy op sosiale media geskryf.

Hy  benodig ’n verdere 16 paaltjies om die eerste snelbouler in krieketgeskiedenis te word om 600 toetspaaltjies te neem.

  • Suid-Afrika se o.19-krieketspan speel vanoggend vanaf 09:30 teen Indië se o.19’s in Durban.

Rugby:

  • Die Sharks sal twee opwarmingswedstryde teen Rusland speel as voorbereiding vir die komende Superrugby-reeks.

Die manne van Durban sal hierdie Vrydag op Kingspark se B-veld teen die Russe kragte meet, terwyl die ander wedstryd op 17 Januarie sal plaasvind.

Gholf:

  • Die Suid-Afrikaanse Ope begin vanoggend op Randpark in Johannesburg. Verskeie Suid-Afrikaanse sterre, onder wie Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel, sal in aksie wees.

Dakar:

  • Stephane Peterhansel het die vierde Dakar-skof in Saoedi-Arabië gewen. Spanje se Carlos Sainz is egter steeds die algehele voorloper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.