Vandag se sportnuus

Bryce Parsons vier sy honderdtal. Foto: KSA-Twitter.

Krieket:

  • Suid-Afrika se o. 19-kaptein, Bryce Parsons, het gister sy hoogste internasionale telling aangeteken toe hy ’n skitterende 121 van slegs 91 aflewerings geslaan het.

Sy beurt het 15 viere en drie sesse ingesluit. Parsons se barshou het gesorg dat die jong Proteas 349/8 in hul toegelate 50 boulbeurte teen Kanada op Potchefstroom opgestapel het.

Daarna het Merrick Brett (2/32), Jack Lees (2/39) en Tiaan van Vuuren (2/24) gesorg dat Kanada vir 199 lopies uitgehaal is.

Die welkome Wêreldbeker-sege van 150 lopies was broodnodig nadat die Suid-Afrikaners sleg in hul eerste wedstryd teen Afganistan verloor het.

  • Intussen is die voormalige Protea-afrigter Ottis Gibson as Bangladesj se boulafrigter aangewys. Hy vervang Charl Langeveldt wat weer deel van die Suid-Afrikaanse opset geword het.

Gibson het verlede jaar die trekpas as die nasionale hoofafrigter gekry ná Suid-Afrika se swak vertoning by die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland.

Netbal:

  • Die Protea-netbalspan het gisteraand in Birmingham met 58 – 54 teen die Engelse Rose verloor.

Dorette Badenhorst se span het die eerste kwart met 16 – 13 gewen, maar hulle het toegelaat dat die Engelse stelselmatig die oorhand begin kry het.

“Ja, ons het ’n paar foute gedurende die wedstryd gemaak en ek dink ons verdediging het moeg geword teen die einde van die kragmeting. Tog is ek baie trots op die span – hulle het nooit moed verloor nie,” het Badenhorst gesê.

Sokker:

  • Manchester United het gisteraand hul derde nederlaag in vier Premierliga-wedstryde gely toe Burnley hulle met 2 – 0 op Old Trafford geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.