Vandag se sportnuus

Beuran Hendricks. Foto: (AP Photo/Themba Hadebe)

Krieket:

  • Die Proteas moet 466 lopies vir ’n onwaarskynlike oorwinning in die vierde en laaste toets teen Engeland op die Wanderers aanteken.

Die tuisspan se boulers het gister vir Engeland tot 248 in hul tweede beurt beperk, met Beuran Hendricks wat 5/64 in sy debuuttoets geneem het. Die Protea-kolwers, wat nie veel hoop by ondersteuners inboesem nie, moet nou ’n wêreldrekord-telling jaag om die toets te wen.

Nog nie een Suid-Afrikaner kon al ’n honderdtal in die reeks slaan nie.

  • AB de Villiers se vertoning vir die Brisbane Heat teen die Melbourne Stars het darem vir ’n krieketglimlag oor die naweek gesorg.

Hy het 71 lopies van slegs 37 balle vir sy Big Bash-span in hul oorwinning van 71 lopies gemoker.

Hy is egter vandag vir slegs ses lopies teen die Melbourne Renegades skoongeboul.

Foto: Ben Lumley/ANA

Netbal:

  • Die Proteas het laaste in die vierhoekige toernooi in Engeland geëindig nadat hulle gister met net twee doele (65–63) teen die gasheerland in die wedstryd om die derde plek verloor het.

Nieu-Seeland is die toernooiwenner nadat die span met Jamaika (67–56) in die finale wedstryd afgereken het.

Rugby:

  • Die Blitsbokke het die wind van voor in Hamilton gekry.

Stedman Gans se span het 10de in die Nieu-Seelandse toernooi geëindig en die spelers het onder meer teen Kenia (36–14) en teen Fidji (12–5) verloor.

Kobe Bryant (7 Junie 2009) (Foto: AP Photo/Mark J. Terrill, File)

Basketbal:

  • Die Amerikaanse basketbal-legende Kobe Bryant (41) en sy dogter Gianna (13) is onder die nege slagoffers van ’n helikopterongeluk in Kalifornië.

Die tragedie het gister om 10:00 in die stad van Calabasas plaasgevind en plaaslike owerhede ondersoek nog die presiese oorsaak van die ongeluk.

Bryant het 20 jaar vir die Los Angeles Lakers gespeel en is onder meer as die mees waardevolle speler in 2008 aangewys, terwyl hy ook twee keer die goue medalje by die Olimpiese Spele verower het.

Sy 81 punte in ’n enkele wedstryd teen die Toronto Raptors is naasbeste in NBA-geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.