Vandag se sportnuus

Israel Folau. Foto: Facebook.

Rugby:

  • Die voormalige Australiese heelagter, Israel Folau, het ’n kontrak van een jaar met die Franse league-rugbyspan Catalan Dragons onderteken.

Die 30-jarige heelagter het in April 2019 ’n inskrywing op sy Instagram-rekening gemaak dat hel op dronkaards, homoseksuele mense, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars wag, tensy hulle hulself bekeer. Hy het bygevoeg dat net “Jesus kan red”.

Sy kontrak is terstond deur Rugby Australië beëindig, maar die twee partye het later ’n skikkingsooreenkoms bereik.

Sy terugkeer tot league-rugby het kritiek ontlok met Wigan Warriors wat hulle tot sosiale media gewend het deur hul wedstryd op 22 Maart teen Folau se Catalan Dragons as hul Gay Pride-dag te herdoop.

Keegan Hirst, ’n homoseksuele speler van Halifax in Brittanje, het op Twitter gesê dat hy teleurgesteld is met die Folau-verwikkeling.

“Ons wonderlike sport moet teen homofobie veg en opstaan vir die waardes waarin hulle glo,” het hy geskryf.

Krieket:

  • Die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan speel môre in die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi teen Bangladesj in Potchefstroom.

Die jong Proteas het sleg teen Afganistan in die groepfase verloor, maar daarna het hulle met Kanada en  die Verenigde Arabiese Emirate afgereken.

Tennis:

  • Op die Rod Laver-baan in Melbourne het Alexander Zverev met Stan Wawrinka in ’n titaniese Australiese Ope-stryd klaargespeel.

Zverev het die eerste stel sleg met 6-1 verloor, maar hy het briljant teruggeveg om die kwarteindstryd met 1-6, 6-3, 6-4 en 6-2 te wen.

Rafael Nadal en Dominic Thiem is in die ander halfeindstryd betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.