Vandag se sportnuus

Jaco Kriel in aksie vir die Lions. (Foto GB Jordaan)

Rugby:

  • Een van die beste losvoorspelers in die Lions se geskiedenis, die Springbok Jaco Kriel, is terug in Johannesburg ná ’n ruk by Gloucester in die Engelse Premierliga.

Kriel het 11 Springboktoetse agter sy naam en het ’n sleutelrol vir die Lions vertolk in hul opmars tot hul agtereenvolgende Superrugby-eindstryde.

Met die 30-jarige ster terug in Johannesburg het Ivan van Rooyen ’n lekker lostrio van Willem Alberts, Kriel en Marnus Schoeman tot sy beskikking.

  • In gisteraand se Varsitybeker-aksie het Tukkies die Pukke met 42 – 40 in Pretoria geklop, terwyl Maties die Shimlas met 67 – 16 verrinneweer het.

In die ander kragmetings was die Universiteit van Kaapstad met 25 – 16 baas teen die Universiteit van Johannesburg, terwyl Wits met 38 – 10 teen die Universiteit van die Wes-Kaap geseëvier het.

Krieket:

  • Die Proteas speel vandag op Nuweland in die eerste eendagwedstryd teen die Engelse toerspan.

Die Suid-Afrikaners het ’n jong en onervare span, terwyl Engeland die huidige wêreldkampioen is.

Hoe ’n moontlike Protea-span kan lyk: Quinton de Kock (kaptein), Reeza Hendricks, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, Kyle Verreyne, David Miller, Andile Phehlukwayo, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi.

Die wedstryd begin om 13:00.

Fietsry:

  • Die Suid-Afrikaanse Padfietskampioenskap word dié week in Mpumalanga by Forever Resorts Swadini gehou.

Die aksie is van 5 tot 9 Februarie met die individuele tydtoets wat eerste op die spyskaart is. Daryl Impey is die huidige SA kampioen in die elite-kategorie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.