Vandag se sportnuus

foto: Facebook

Swem:

  • Twee Suid-Afrikaners Michael McGlynn en Robyn Kinghorn het onderskeidelik die mans- en vrouetitel gewen tydens Sondag se Midmar-myl-oopwaterbyeenkoms.

Rugby:

  • Die uitvoerende hoof van Engeland se Rugby Football Union (RFU), Bill Sweeney, het gesê dat daar geen samesprekings met Rassie Erasmus gehou is nie.

Daar is gister in die media berig dat Suid-Afrika se gewilde direkteur van rugby moontlik vir Eddie Jones as Engeland se breier kan vervang. ’n Lid van die Bokke se suksesvolle Wêreldbeker-afrigterspan, Matt Proudfoot, is juis reeds in Engeland.

  • In vanaand se Varsitybeker-aksie pak Wits vir UJ, Ixias kom teen Tuks te staan, Ikeys vat die Pukke aan en die Shimlas speel teen die Universiteit van die Wes-Kaapland.
  • Ná twee rondes se Superrugby is die Stormers eerste op die punteleer met nege punte. In twee wedstryde het hulle nog nie een keer punte afgestaan nie.

Die Sharks is vierde, die Lions negende en die Bulls is 12de op die gesamentlike punteleer.

Die naweek se Superrugby-uitslae: Hurricanes 26 – 23 Jaguares; Stormers 13 – 0 Bulls; Lions 27 – 20 Reds; Blues 32- 12 Waratahs; Chiefs 25 – 15 Crusaders; Brumbies 39 – 26 Rebels en Sharks 42 – 20 Highlanders

  • Die naweek se Sesnasies-uitslae: Frankryk 35 – 22 Italië; Engeland 13 – 6 Skotland en Ierland 24 – 14 Wallis.

Foto: Karen Sandison/African News Agency(ANA)

Krieket:

  • Engeland het die derde en laaste eendagkragmeting in die reeks van drie met net twee paaltjies teen Suid-Afrika gewen.

Die reeks het met 1 – 1 gelykop geëindig nadat Vrydag se tweede wedstryd in Durban uitgereën het en Suid-Afrika die eerste een op Nuweland met sewe paaltjies beklink het. Suid-Afrika se nuwe eendagkrieket-kaptein, Quinton de Kock, is as die speler van die reeks aangewys.

  • Die 36-jarige Dale Steyn is terug in Protea-kleure vir die komende T20-reeks teen Engeland.

Boks:

  • Die Gautengse juniorswaargewigbokser Kevin Lerena het sy IBO-titel suksesvol teen Firat Arslan in Duitsland verdedig.

Dit is Lerena se 14de agtereenvolgende oorwinning – sy enigste nederlaag was in 2014 teen sy landgenoot Johnny Muller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae