Vandag se sportnuus

Ikeys het die Pukke met 31– 22 laat les opsê. Foto: @varsitycup/Twitter

Rugby:

  • Varsitybeker-reeks:

Die Universiteit van die Wes-Kaapland (WUK) het die Shimlas Maandagaand met 29 – 28 in Bloemfontein getroef, terwyl Ikeys die Pukke met 31– 22 laat les opsê het. Tuks het Ixias met 40 – 23 geklop nadat hulle teen rustyd met 16 – 20 agter was. Wits het UJ met 7 – 6 geklop.

  • Superrugby:

Jaco Peyper sal Saterdag die fluitjie blaas in die Superrugby-stryd tussen die Leeus en die Stormers op Ellispark.

Krieket:

  • Die Kiwi’s het die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan Maandag in Wellington, Nieu-Seeland, met 69 lopies in die vierde wedstryd geklop.

Die Kiwi’s loop met 3 – 1 voor. Die laaste wedstryd word Donderdag beslis.

  • Die 36-jarige Dale Steyn is terug in Protea-kleure vir die komende T20-reeks teen Engeland.

Die Phalaborwa-sneltrein het vroeër sy uittrede uit toetskrieket aangekondig, maar is steeds vir Suid-Afrika in witbalkrieket beskikbaar.

AB de Villiers, Chris Morris en Imran Tahir is ook in Krieket Suid-Afrika se planne vir die komende T20-wêreldbeker in Engeland, maar nie een van hulle is vir die Engeland-reeks gekies nie. Dan is Faf du Plessis en Kagiso Rabada ook nie in die groep nie.

Die Proteas se T20-groep: Quinton de Kock (kaptein), Reeza Hendricks, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, David Miller, Pite van Biljon, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts, Beuran Hendricks, Tabraiz Shamsi, Lungi Ngidi, Sisanda Magala, Bjorn Fortuin, Dale Steyn, Heinrich Klaasen.

Rory McIlroy. Foto: (AP Photo/Denis Poroy)

Hokkie:

  • Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan kom Dinsdag weer teen Amerika te staan in Ballito aan die KwaZulu-Natalse Noordkus.

Suid-Afrika het die naweek se eerste twee wedstryde gewen en speel Woensdag die laaste wedstryd teen die Amerikaners. Die span speel daarna teen Duitsland in Johannesburg.

Gholf:

  • Rory Mcllroy is vir die eerste keer sedert 2015 weer die voorste gholfspeler op die wêreldranglys.

Brooks Koepka was sedert Mei nommer een, maar moet nou met die tweede plek tevrede wees. Jon Rahm, Justin Thomas en Dustin Johnson maak die res van die topvyf-posisies uit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.