Vandag se sportnuus

Ian Foster. Foto: All Blacks/Facebook

Rugby:

  • Nieu-Seeland se nuwe rugbyafrigter, Ian Foster, het gesê dat hy hom nie ’n toetsrugbyjaar kan voorstel sonder dat die All Blacks teen die Springbokke kragte meet nie.

Volgens verskeie mediaberigte is daar ’n moontlikheid dat die Springbokke ná die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2023 die Rugbykampioenskap sal vaarwel heet, en deel van die Sesnasies-aksie in Europa sal word.

“Ons het vir Suid-Afrika in ons kompetisie nodig. Hulle is ’n fantastiese groep mense met ’n fantastiese land en ons móét teen hulle speel. Ons weet hulle het hulle vir die volgende paar seisoene tot die Rugbykampioenskap verbind, maar ons moet seker maak dat ons rugbyverhouding sterk bly,” het Foster gesê.

“Om in ’n swarttrui teen die Bokke te speel is baie spesiaal, bloot weens die respek wat ons vir hulle het. Dit is iets wat moet voortgaan.”

  • Intussen is die Superrugby-seisoen van die Stormers se Springbokhaker iets van die verlede.

Die veglustige Bongi Mbonambi het ’n dyspierbesering teen die Hurricanes op Nuweland opgedoen en sal vir die res van die seisoen die aksie vanaf die kantlyn dophou.

Dale Steyn. Foto: (AP Photo/Nasief Manie, FILE)

Krieket:

  • Suid-Afrika speel vanaand in Oos-Londen in die openingswedstryd van die T20-reeks teen Engeland.

Indien hy gekies word, sal Dale Steyn in sy eerste internasionale T20-wedstryd in ’n jaar se tyd speel.

Die 36-jarige snelbouler het die afgelope ruk kwaai onder beserings deurgeloop en onder meer die Proteas se rampspoedige Wêreldbeker-kriekettoernooi misgeloop, terwyl hy ook sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het.

Hy was egter onlangs vir die Melbourne Stars in die Big Bash League in aksie.

Die aksie begin vanaand om 18:00.

Tennis:

  • In die New York-ope het Suid-Afrika se Kevin Anderson met 7-6 en 6-4 teen Jason Jung verloor.

Die 33-jarige Anderson het weliswaar 16 kishoue afgevuur, maar hy kon slegs 78% van die tyd punte op sy afslane verdien. Daarteenoor spog Jung met ’n persentasie van 91%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.