Vandag se sportnuus

GB Jordaan se skitterende foto van Burger Odendaal se duikslag. Foto: GB Jordaan.

Rugby:

  • Die afgelope naweek se nederlaag van 23 – 21 teen die Blues op Loftus Versfeld was die Bulls se derde agtereenvolgende een van die seisoen.

Dit is die eerste keer sedert 2005 wat die Bulls hul eerste drie wedstryde verloor. In 2017 kon hulle weliswaar net een van hul eerste ses wedstryde van die reeks gewen het, maar hulle het darem toe hul openingskragmeting teen die Sunwolves gewen.

Die Pretorianers is tans 14de op die gekombineerde punteleer en hulle het net een ligapunt ná die eerste drie rondes van die reeks.

Hoewel die Bulls tereg kan mor oor Burger Odendaal se geelkaart vir sy perfekte duikslag op Emoni Narawa, moet hulle ook hand in eie boesem steek wat hul spel betref.

Morné Steyn vier sy drie. Foto: GB Jordaan.

“Ek dink die beslissing om Burger koelkas toe stuur was ’n moeilike een vir ons. Ek het rêrig gedink dat die speler afgegaan het toe Burger die duikslag uitgevoer het. Dit was ’n bobaas-duikslag gewees; niemand is beseer nie,” het Pote Human (afrigter) gesê.

“ʼn Mens moet egter die skeidsregter se beslissing respekteer en jou spel daarvolgens aanpas.”

Odendaal het ’n enkelbesering gedurende die Blues-wedstryd opgedoen. Indien hy nie die fiksheidstoets slaag nie, sal Trevor Nyakane die span op die veld lei.

  • Die Lions speel die naweek hul eerste toerwedstryd teen die Waratahs in Sydney.

 

Krieket:

  • Die derde en beslissende T20-wedstryd tussen die Proteas en Australië word môre op Nuweland beslis.

Die Aussies het die eerste wedstryd oortuigend met 107 lopies op die Wanderers gewen, maar die Suid-Afrikaners het skitterend op St George’s Park teruggeveg om die tweede kragmeting met 12 lopies te beklink.

Die aksie begin môre om 18:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.