Vandag se sportnuus

Pieter-Steph du Toit. Foto: ANA.

Rugby:

  • Die Stormers-afrigter, John Dobson, het bevestig dat die Kapenaars vir tot agt weke sonder die dienste van Pieter-Steph du Toit kan wees.

Du Toit, wat as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys is, het ’n hematoombesering opgedoen en moet ’n operasie ondergaan. Hy sal na verwagting gereed wees vir die Stormers se toer na Australië en Nieu-Seeland.

Sy besering beteken dat die Kapenaars sonder drie van hul Springbokke sal wees. Siya Kolisi en Bongi Mbonambi is reeds op die krukkelys.

  • Ten spyte van die Blitsbokke se sensasionele terugvegpoging teen Fidji in die bekereindstryd van die Los Angeles-sewestoernooi, is die Suid-Afrikaners steeds tweede op die punteleer ná Nieu-Seeland.

Krieket:

  • Die Proteas se vrouekrieketspan speel môre in hul laaste groepwedstryd van die T20-Wêreldbeker in Australië teen die Wes-Indiese Eilande.

Die Suid-Afrikaners het reeds vir die halfeindstryd van die reeks gekwalifiseer en is tot dusver onoorwonne nadat hulle met Engeland, Thailand en Pakistan afgereken het.

  • Dan is Quinton de Kock se span Woensdag weer in aksie in die tweede eendagwedstryd teen Australië in Bloemfontein.

Die Proteas het die eerste wedstryd in die Paarl met 74 lopies gewen te danke aan Heinrich Klaasen se spoghonderdtal.

Tennis:

  • Spanje se Rafael Nadal het oor die naweek die Meksikaanse Ope gewen toe hy Taylor Fritz met 6-3 en 6-2 geklop het.

Serwië se Novak Djokovic het ook in Dubai amok gemaak om vir Stefanos Tsitsipas met 6-3 en 6-4 in die eindstryd van die Dubai Duty Free-tenniskampioenskap ore aan te sit.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans ·

Dit is ‘n groot terugslag vir die Stormers en Springbokrugby.Was dit nou nodig om die man week in en
week uit sonder ‘n ruskans te speel?

Jims ·

Ek stem saam Frans, die afrigtingspan het die man verniel. Geen mens se liggaam kan week na week daardie straf vat nie!

Frans ·

Dit is ‘n abnormale versameling van bloed buitekant ‘n bloedvat gewoonlik gevolg van baie harde stampe soos in rugby.Wanneer dit erg is sukkel die liggaam om dit deur bloedstolling te herstel.
Die bloed irriteer dit omliggende weefsel en veroorsaak inflammasie,pyn en swelling.
Die inligting verkry op mediese webblad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.