Vandag se sportnuus

Suid-Afrika se Laura Wolvaardt in aksie. Foto: (AP Photo/Rick Rycroft)

Krieket:

  • Die Proteas se vrouekrieketspan het gister op ’n hartverskeurende wyse in die halfeindstryd van die T20-wêreldbeker teen Australië verloor.

Die tuisspan het eerste gekolf en 134/5 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Die Suid-Afrikaanse boulers het goed terugbaklei en veral Nadine de Klerk (3/19) het die lopiekrane behoorlik toegedraai.

Die reën het ’n invloed op die wedstryd gehad en die Proteas se wenteiken is na 98 lopies in 13 boulbeurte aangepas.

Dane van Niekerk se span het in ’n stadium op 24/3 gewankel, maar ’n sprankelende kolfbeurt deur die jong Laura Wolvaardt (41 van 27 balle) het so amper die wa deur die drif vir die Proteas getrek. Hulle het egter dié naelbytkragmeting met ses lopies verloor.

“As span staan ons altyd saam – maak nie saak of ons wen of verloor nie. Ons is ’n baie talentvolle span, maar vandag was ongelukkig net nie ons dag gewees nie en my hart is ongelooflik seer wanneer ek na my spanmaats kyk,” het ’n emosionele Van Niekerk ná die wedstryd gesê.

  • Quinton de Kock se Proteas speel môre in die derde en laaste eendagwedstryd teen Australië in Potchefstroom.

Die Proteas het reeds die reeks in Bloemfontein beklink te danke aan Janneman Malan se skitterende honderdtal en Lungi Ngidi se toorkunsies met die bal.

Rugby:

  • Die Sesnasieswedstryd tussen Engeland en Italië is weens Covid-19 uitgestel, terwyl die Brumbies ook eerder in Australië teen die Sunwolves gespeel het as om na Japan te reis.
  • Die Blitsbokke speel môreaand hul eerste wedstryd van die Vancouver-toernooi teen Japan om 20:06.
  • Die Bulls, Lions en Sharks is die naweek in Superrugby-aksie te siene.

Die Lions speel môre om 10:15 teen die Rebels in Melbourne, terwyl die sterk Sharks-span om 15:05 teen die Jaguares kragte meet.

Die Bulls sal om 17:15 hul toernooi op koers wil kry wanneer hulle teen die Highlanders op Loftus Versfeld in aksie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

My hart is seer vir die vroue proteas. Hul was so blymoedig maar moes alles uithaal en wys. Dis nie die eerste keer dat ons die onderspit moet byt agv reën nie. Well done dames jul het ons harte bly gemaak in die toernooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.