Vandag se sportnuus

Rugby:

  • Vanaand se wedstryde in die Varsitybekerreeks – ’n toernooi wat gereeld duisende studente op ’n Maandagaand lok – is ook weens Covid-19 afgelas.

Dít kom nadat pres. Cyril Ramaphosa gisteraand gesê het dat byeenkomste van meer as 100 mense verbied word.

Die toernooi se organiseerders sal môre byeenkom om oor die toekoms van die gewilde studentereeks te vergader.

  • Intussen het die Stormers-breier, John Dobson, gesê dat hy hartseer is dat die Superrugby-toernooi weens die koronavirus afgelas is.

Hoewel hy nie teen die besluite en raad van owerhede en beheerliggame wil gaan nie, wil hy ook na die lewensbestaan van spelers en ander belanghebbendes kyk. Al beteken dit dat wedstryde agter geslote deure gespeel moet word en die spelers vooraf vir die virus getoets word.

“Die nagevolge van die reaksie op die virus kan moontlik vir meer swaarkry en ellende as Covid-19 op sy eie sorg, veral as jy kyk hoe die werksmark en die ekonomie beïnvloed word. Dit is my grootste bekommernis. Ek verstaan die veiligheidskwessies, maar as jy ons en die Sharks se spelers gevra het of hulle môre op ’n vliegtuig sal klim, sal hulle waarskynlik ja sê.”

Krieket:

  • Shaun von Berg se briljante boulsyfers van 5/33 teen die Titans op SuperSportpark het gesorg dat die Knights vir die halfeindstryd van die Momentum-eendagbeker gekwalifiseer het.

Die Vrystaters het die wedstryd met drie paaltjies gewen nadat hulle die tuisspan tot 138 lopies beperk het.

  • Die Wêreldbeker vir spelers ouer as 50 jaar in die Kaap is ook weens die koronavirus afgelas.

Die Suid-Afrikaners was onoorwonne in die toernooi nadat hulle met Wallis en Engeland afgereken het.

Veral Alan Dawson het ’n briljante toernooi gehad. Hy het 69 blitsige lopies teen Wallis geslaan, terwyl hy met die bal teen die Engelse uitgeblink het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.