Sporttoekennings
Suid-Afrika se 400 m-wêreldkampioen, Wayde van Niekerk, is genomineer vir die Laureus Wêreldsporttoekennings in die katogorie “Deurbraak van die Jaar”. Van Niekerk het ʼn nuwe wêreldrekord van 43.03 sekondes in die 400 m opgestel by verlede jaar se Rio Olimpiese Spele.
Gholf
Die SA Ope se eerste ronde het vanoggend op die Glendower-baan in Ekurhuleni begin.
Daar is ʼn paar interessante driebalgroeperings onder die 156 spelers.
- Wêreldnommer 2, Rory McIlroy, speel saam met die verdedigende kampioen Brandon Stone en George Coetzee.
- Ernie Els is op die bof saam met die 2015-kampioen Andy Sullivan en Thomas Aiken.
- Nog ʼn groepering om dop te hou is Retief Goosen, Darren Fichardt en Hennie Otto.
In die Amerikaanse PGA-reeks begin die Sony Ope in Honolulu vandag.
Drie Suid-Afrikaners gaan hul staal toon. Hulle is Tyrone van Aswegen,
Rory Sabbatini en Branden Grace.
Tydrennuus
Die 39ste Dakartydren se negende skof oor 977 km tussen Salta en Chilecito in Argentinië is gister gekanselleer weens hewige modderstortings.
Motorafdeling:
Sebastien Loeb in sy Peugeot is die algehele voorloper met SA se Geniel de Villiers in sy Toyota algeheel sesde.
Motorfietsafdeling:
Brittanje se Sam Sunderland is steeds die algehele voorloper.
Krieket
Hasim Amla stap vandag in sy 100ste toetswedstryd op die Wanderers op die veld. Dit is in die derde en finale kriekettoets teen Sri Lanka.
Die Proteas het reeds die reeks 2-0 verower en gaan poog om skoonskip te maak deur die laaste toets ook te wen.
In Wellington speel Nieu-Seeland en Bangladesj in die eerste toets teen mekaar.
En Suid-Afrika se vrouespan speel teen Bangladesj in ʼn eendagkragmeting.
Sunfoil-krieketreeks
Drie wedstryde begin vanoggend om tienuur.
Warriors | vs | Cape Cobras | Buffalo Park, Oos Londen | 10:00 |
Knights | vs | Dolphins | De Beers Diamant Ovaal, Kimberley | 10:00 |
Titans | vs | Highveld Lions | Sahara Park Willowmoore, Benoni | 10:00 |
Boks
Manny Pacquaio klim op 23 April weer in die bokskryt om dié keer teen Jeff Horn van Australië te boks. Dit is nog nie duidelik waar die geveg sal plaasvind nie.
Tennis
In Sydney het die Duitser Philipp Kohlschreiber die Aussie Jordan Thompson 7-5 en 6-4 verslaan om die kwarteind te bereik. Dominic Thiem moes hard spook om die kwalifiseerder van Portugal, Gastao Elias, te klop.
Vrouetennis
Johanna Konta het vir Daria Kasatkina by die toernooi in Sydney 6-3 en 7-5 geklop. Eugenie Bouchard het na die volgende ronde deurgedring, maar Caroline Wozniacki is uitgeskakel.
Davisbeker
Suid-Afrika speel van 3 tot 5 Februarie in ʼn Davisbeker-kragmeting teen Estland. SA is 58ste op die Davisbekerranglys.
Sokker
Die tweede halfeind se eerste been in die Engelse Ligabeker is gisteraand gespeel. Southampton het nader aan die eindstryd beweeg met ʼn oorwinning van 1-0 oor Liverpool.