Vandag se sportnuus

Die minister van sport, Thulas Nxesi, het drie sportsoorte se regte om internasionale byeenkomste aan te bied aan hulle terugbesorg. Die sportsoorte wat hul transformasieteikens bereik het, is rugby, krieket en netbal. Dit beteken SA Rugby kan voortgaan met sy bod om die 2023-Wêreldbeker te kan aanbied.

Olimpiese Spele

Die fokus is vandeesweek op Los Angeles se Olimpiese bod vir 2024. Die Internasionale Olimpiese Komitee besoek dié stad dié week om te sien wat hulle alles bied vir 2024. Parys is die ander mededinger. Die wenner sal in September bekend gemaak word.

Wêreldbekerrugby

Vandag word die loting gedoen vir die 2019-Wêreldbeker. Suid-Afrika gaan heel moontlik ʼn moeilike loting kry weens sy swak posisie op die huidige ranglys.

Superrugby

Skrumskakel Faf de Klerk is weer weggelaat uit die wedstrydgroep vir die Lions se wedstryd die naweek. Hulle speel Vrydag teen die Brumbies in Canberra.

Sewesrugby

Die negende toernooi van die Wêreldreeks word die naweek in Parys gespeel. Die Blitsbokke speel Saterdag in Groep A teen Skotland, Japan en Kanada.

Motorwedrenne

Die fokus verskuif die naweek van Moto GP na Formule Een. Alle oë sal op die Spaanse Formule Een Grand Prix wees wat Sondag gejaag word.

Fietsry

Die Toer van Italië se vierde skof is gister afgehandel.

  1. Jan Polanc (SLO/UAE) 4 uur 55 min 58 sek
  2. Ilnur Zakarin (RUS/KAT) plus 19 sek
  3. Geraint Thomas (GBR/SKY) plus 29 sek

Algeheel

  1. Bob Jungels (LUX/QST) 19 uur 41 min 56 sek
  2. Geraint Thomas (GBR/SKY) plus 6 sek
  3. Adam Yates (GBR/ORI) plus 10 sek

IPL-krieket

Gister is een wedstryd gespeel. Die Kings XI Punjab klop die Kolkata Knight Riders met 14 lopies.

Bepalings

 

Vrouekrieket

Suid-Afrika het gister in die tweede wedstryd van die vierhoekige Eendagreeks op Potchefstroom teen Indië gespeel. Indië het koning gekraai met 7 paaltjies.

Gholf

Die afwagting is groot vir die sogenaamde vyfde Major, die Spelerskampioenskap, wat môre op TPC Sawgrass in Florida begin. Jason Day sal saam met Rickie Fowler en Henrik Stenson speel. Wêreldnommereen, Dustin Johnson, is saam met Rory McIlroy en Justin Thomas in ʼn groep. Charl Schwartzel en Ernie Els speel in dieselfde driebal tydens die eerste twee rondtes.

Hokkie

Hier is die Varsity-hokkiereeks vir die vrouespanne se jongste punteleer.

Tennis

By die Madrid Ope het die verdedigende kampioen Simona Halep vir Roberta Vinci met 6-3, 2-6 en 7-6 (7/2) geklop om deur te dring na die derde ronde.

Wêreldnommereen, Andy Murray, het maklik klaargespeel met Marius Copil deur met 6-4 en 6-3 te seëvier.

Sokker

In die Eufa Kampioeneliga het Juventus gemaklik na die eindstryd deurgedring ná ʼn 2-1-oorwinning oor Monaco. Dit gee aan hulle ʼn saamgestelde telling van 4-1 in die halfeind.

Vanaand speel Real Madrid teen Atletico Madrid in die tweede been van die halfeindstryd. Real is met 3-0 voor ná die eerste been.

In die Engelse Premierliga lyk die punteleer só:

In Suid-Afrika se Premierliga is daar gisteraand een wedstryd gespeel:

SuperSport United  4-2      Cape Town City FC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.