Vandag se sportnuus

Rassie Erasmus het die Springbokke tot hoër hoogtes geïnspireer. (AP Photo/Christophe Ena)

Rugby:

  • SA Rugby het gister in ’n verklaring bevestig dat daar geen rugby tot en met die einde van April gespeel sal word nie.

“Ek doen ’n beroep op die hele rugbygemeenskap om hul deel te doen om die pandemie in sy spoor te stuit. Die Springbokke het verlede jaar gewys dat ons sterker is wanneer ons saam staan,” het die president van SA Rugby, Mark Alexander, gesê.

  • Ten spyte van al die maatreëls wat ten opsigte van wedstryde, oefensessies en reisplanne getref is, is die nasionale direkteur van rugby steeds besig met voorbereidingswerk.

“Ons gaan beslis voort met beplanning vir die res van die seisoen, maak nie saak of dit vir die Springbokke, Blitsbokke of die nasionale vrouespan is nie,” het Rassie Erasmus gesê.

“As jy suiwer vanuit ’n rugbystandpunt praat, besef ʼn mens dat niemand vir die pandemie kon beplan nie en rugby regoor die wêreld is in dieselfde bootjie.”

Hoewel daar uitdagings is wat persoonlike kommunikasie en spanaktiwiteite betref, maak moderne tegnologie dit vir spelers en afrigters steeds moontlik om met mekaar te kommunikeer.

“Daar is weliswaar niks beter as om rondom dieselfde tafel te sit of om op die oefenveld rond te hardloop nie. Maar hierdie is ’n unieke situasie; ons kan egter bevestig dat die beplanningswerk nie stop nie.”

Parkrun:

  • Dit is gister ook bevestig dat alle Parkruns in Suid-Afrika voorlopig gekanselleer is.

In ’n e-pos aan alle Parkrun-drawwers het die legendariese Bruce Fordyce gesê dat die moontlikheid bestaan dat dié gewilde weeklikse vyfkilometer-wedloop ook tot die einde van April afgelas kan wees.

“Wees asseblief verseker dat ons hard aan ’n strategie werk om die gesondheid en geluk van Parkrunners regoor die wêreld te ondersteun.

“Om fiks en gesond te bly, is baie belangrik, maar daar moet asseblief geen groepaktiwiteite by die verskeie venues gereël word terwyl die wedlope afgelas is nie,” het Fordyce gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.