Rugby:
- John Smit, seëvierende kaptein van die Springbokke se suksesvolle veldtog gedurende die 2007-Wêreldbeker in Frankryk, is vandag 42 jaar oud.
Hoewel talle ontleders waarskynlik sal saamstem dat Bismarck du Plessis die beter haker was, kan niemand Smit se leierskapvaardighede betwis nie.
In 111 toetse spog Smit met ’n wenrekord van 63,03%, en sy Bokspanne het onder hom ook die Rugbykampioenskap en die Britse en Ierse Leeus gewen.
- Intussen is dit bevestig dat Eddie Jones Engeland se hoofafrigter tot die 2023-Wêreldbekertoernooi sal wees.
Die 60-jarige Jones het 42 van sy 54 toetse in beheer van Engeland gewen en hy is in sy noppies met die verlenging van sy kontrak.
Sy wenrekord van 78% is die beste van enige afrigter in die Engelse rugbygeskiedenis en hy was aan die stuur van sake toe die span 18 agtereenvolgende wedstryde gewen het.
Sokker:
- Planne word beraam sodat die Europese sokkerligas, wat tot ’n stilstand weens die Covid-19-pandemie gekom het, teen Julie/Augustus hervat word.
In ’n brief het UEFA, die sokkerbeheerliggaam op die kontinent, gesê dat dit belangrik is dat alle ligas wel op die veld beslis moet word.