Vandag se sportnuus

Richie Ma’unga. (Foto: Twitter)

Rugby:

  • Nieu-Seelandse rugbybase is warm onder die kraag nadat foto’s verskyn het waar vyf Crusaders-spelers die bal op Christchurch-park rondgooi.

Die All Blacks se losskakel, Richie Mo’unga, was deel van die groep.

Nieu-Seeland is ook weens die Covid-19-pandemie in ’n tydperk van afsondering en die regering het sekere maatreëls ingestel.

“Van die Crusaders-spelers het nie hierdie maatreëls gevolg nie en dit is onaanvaarbaar. Ons het almal wat by rugby betrokke is aan die regering se Covid-19-regulasies herinner en die afgelope week se verontagsaming moet nie weer gebeur nie,” het Nieu-Seeland Rugby se uitvoerende hoof, Mark Robinson, gesê.

Mo’unga het homself tot sosiale media gewend om homself te verdedig.

Volgens die losskakel wou hy in die park gaan hardloop het, toe die bal in sy rigting geskop is. Hy het instinktief die bal opgetel en teruggegooi.

“Hoewel dit ’n natuurlike reaksie vir my is, sal ek in die toekoms baie meer versigtig wees,” het hy op Instagram geskryf.

  • Intussen het van die Cheetahs se sleutelspelers aangedui dat hulle nog vir die voorsienbare toekoms in Bloemfontein sal aanbly.

Junior Pokomela, Aidon Davis, Aranos Coetzee, Charles Marais, Marnus van der Merwe en Ruben de Haas het almal hul kontrakte verleng.

  • Dan het die Franse rugbybaas, Bernard Laporte, ’n kompetisie voorgestel wat provinsiale spanne beslis sal bevoordeel.

Laporte se plan is om ’n Wêreldbeker-toernooi vir klubs, of dan provinsiale spanne, op die been te bring. Die semifinaliste van die Franse Top14-kompetisie en die Engelse Kampioenskap, asook die topses spanne van die Superrugby-reeks sal dan saam met spanne van die Keltiese liga en die kampioenspan van Japan en die VSA vir dié konsep kwalifiseer.

Tennis:

  • Aussie-ster Nick Kyrgios het onderneem om kospakkies by hulpbehoewende Australiese huisgesinne af te laai.

“Moet asseblief nie honger gaan slaap nie en moet asseblief nie verleë voel om vir my ’n boodskap te stuur nie. Ek sal graag met mense deel wat ek het,” het hy gister gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.