Vandag se sportnuus

Die Springbokke se Siya Kolisi gedurende ’n oefening vóór die Wêreldbeker-toernooi. (Foto: Takumi Sato, AP)

Rugby:

  • Terwyl ’n Covid-19-swaard bo Julie se internasionale toetse hang, berei die Springbokke steeds vir die Skotse aanslag voor.

“Dit is niks lekker om spelers van agter ’n rekenaarskerm af te rig nie. Die moeilikste gedeelte is om nie te weet wanneer alles weer hervat sal word nie. Ons wil weet wanneer ons met die spelers kan begin werk; om video’s van die Skotse spelers te bestudeer,” het Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, gesê.

“In my kop speel ons op 4 Julie in die eerste toets teen Skotland en ons berei voor daarvoor. Die oomblik wanneer hulle ons in kennis stel dat die Julie-toetse afgelas is, sal ons dinge aanpas.”

  • Twee Franse rugbyhelde, Thierry Dusautoir en Sébastien Chabal, het ook positief vir Covid-19 getoets.

Die bebaarde Chabal, wat een van die taaiste spelers op die internasionale verhoog was, het aan die Franse media gesê dat die virus hom vir meer as ’n week lamgelê het, maar dat dit niks in vergelyking is met dít wat hy rondom hom in Frankryk sien nie.

Formule Een:

  • F1-base oorweeg dit om wedrenne agter geslote deure aan te bied sodra die seisoen hervat kan word.

Tot dusver is elke wedren tot en met 28 Junie as gevolg van die wêreldwye pandemie óf gekanselleer óf afgelas.

“Ons kyk op die oomblik na die logistiek van ’n geslote wedren; wie gaan almal op die baan toegelaat word en hoe ons hulle veiligheid en gesondheid sal verseker,” het F1 se besturende direkteur, Ross Brawn, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.