Vandag se sportnuus

AB de Villiers en sy vrou, Danielle, en seun, AB jr. (Foto: Instagram)

Krieket:

  • Volgens mediaberigte in Indië is AB de Villiers die beste kolwer in die geskiedenis van die Indiese Premierliga.

Plaaslike sterre soos MS Dhoni en Rohit Sharma is as die beste kapteins aangewys.

In 154 wedstryde vir die Royal Challengers Bangalore het die 36-jarige De Villiers 4 395 lopies teen ’n gemiddeld van 39,95 geslaan, terwyl sy treftempo ’n ongelooflike 151,23 was. Hy het reeds 33 vyftigtalle en drie honderdtalle geslaan; met ’n hoogste telling van 133.

Die keurkomitee – wat onder andere uit 20 voormalige Indiese krieketspelers bestaan – het beslis dat De Villiers ’n groter impak as Suresh Raina en Virat Kohli gehad het.

Lasith Malinga is die beste bouler, terwyl Australië se Shane Watson as die beste veelsydige speler gekies is.

Kohli – wat die voorste lopiemaker in die reeks is – het ’n eervolle vermelding as die beste Indiese kolwer gekry.

Vanjaar se weergawe van die IPL is ook weens die Covid-19-pandemie afgelas, maar verskeie kenners voel dat die toernooi later vanjaar wel moet voortgaan.

Kevin Pietersen het onder andere gesê dat die ’n verkorte weergawe van die toernooi in Augustus moet afskop. Hy het voorgestel dat die wedstryde net in drie stede, en agter geslote deure, gespeel moet word.

Formule Een:

  • Die Silverstone-renbaan in Engeland is bereid om gasheer vir twee agtereenvolgende toeskouerlose wedrenne te speel; alles in ’n poging om die F1-seisoen eendag weer op koers te kry.

“Ek het baie vertroue in ons vermoë om dit suksesvol aan te bied; ons beskik oor die nodige vaardighede en kennis,” het die baan se Stuart Pringle gesê.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat ’n renbaan twee agtereenvolgende wedrenne aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.