Vandag se sportnuus

Ter illustrasie. Argieffoto.

Rugby

  • SA Rugby het vroeër die week in ’n verklaring aangekondig dat ’n rits provinsiale toernooie weens die Covid-19-pandemie in die slag sal bly.

Die lys sluit alle nasionale jeugweke (waaronder die Cravenweek), die SA Skole o.18-toernooi, die provinsiale o.19- en o.20-toernooie asook die provinsiale seweskompetisies in.

Volgens SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gaan daar steeds met die beplanning van die Curriebeker, internasionale toetse, Blitzbok-wedstryde, die provinsiale o.21-reeks en die SuperSport-uitdaagreeks voort.

Roux het gesê daar word ook na ’n plaaslike kompetisie in Julie of Augustus gekyk om as plaasvervanger vir die Superrugby- en Pro14-reeks te dien.

Sokker

  • Die kaptein van Wallis en Real Madrid-ster, Gareth Bale, het saam met sy vrou, Emma, £500 000 (amper R12 miljoen) aan ’n plaaslike Walliese hospitaal geskenk om Covid-19 te beveg.

Die National Health Service het in ’n verklaring gesê dat Bale die geld aan die University Hospital of Wales sal skenk.

“Die hospitaal het ’n baie spesiale plek in my hart en dit is waar ek gebore is. Ek en my gesin wil graag ons ondersteuning op ’n tasbare manier wys – die hospitaalpersoneel doen ’n ongelooflike werk daar,” het Bale in ’n videoboodskap gesê.

Meer as 180 000 Britte het reeds Covid-19 opgedoen en daar is meer as 18 000 sterftes weens die virus.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Michael 1

Die laaste tyd was sport nie n hoogtepunt op my preoriteits lys gewees nie ,as ek so met pêlle praat wat altyd rugby mal was is dit n sport wat stil stil besig is om soos boks dood te loop.