Vandag se sportnuus

Faf du Plessis. Argieffoto.

Krieket:

  • Die voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein, Faf du Plessis, het in ’n onderhoud gesê dat die tyd reg was om die leierskapleisels aan iemand anders oor te dra.

Die 35-jarige Du Plessis het in Februarie gesê dat hy nie meer die Proteas in enige formaat van die spel sal aanvoer nie, maar dat hy wel nog as speler beskikbaar is.

Sedertdien is Quinton de Kock as die kaptein in witbalkrieket aangewys, terwyl daar nog nie ’n opvolger in die toetsarena gekies is nie.

Volgens Du Plessis verdien die nuwe afrigterspan van Mark Boucher, Jacques Kallis en Charl Langeveldt ’n vars gesig as kaptein saam met wie hulle ’n pad kan stap.

“Ek is steeds mal daaroor om vir die Proteas te speel en deel van die opset te wees. Ek kan beslis waarde tot die span voeg.

“Ek het nog nie een keer daaraan gedink om oorsee te gaan speel nie. Ek is steeds ongelooflik opgewonde om die span in al drie formate te verteenwoordig.”

Hy erken egter dat hy die kapteinskaprol sal mis.

“Ek is sedert 13-jarige ouderdom as kaptein betrokke by ’n span en ek beskou myself meer van ’n leier as ’n speler. Ek geniet dit die meeste van alles en ek sal dit beslis mis.”

Du Plessis het 18 van sy 35 toetse aan die stuur van die Proteas gewen.

  • Usman Khawaja is nie een van die 20 Australiese krieketspelers wat nasionale kontrakte vir die komende seisoen ontvang het nie.

Die 33-jarige kolwer het in 44 toetse 2 887 lopies teen ’n gemiddeld van geslaan.

Volgens Khawaja is hy steeds een van die beste kolwers in die land.

“Dit is nie asof ek 38 jaar oud is en my loopbaan amper verby is nie. Ek wil nie arrogant klink nie, maar ek glo dat ek steeds onder die ses beste kolwers in die land tel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.