Vandag se sportnuus

Eddie Jones. (Foto Twitter@EnglandRugby)

Rugby:

  • Die omstrede hoofafrigter van Engeland, Eddie Jones, het in een van sy podsendings gesê dat hy die minste van Laurie Mains as Nieu-Seeland se afrigter gehou het.

Mains was aan die stuur van die All Blacks toe Kitch Christie se Springbokke hulle in die eindstryd van die 1995-Wêreldbekertoernooi op Ellispark geklop het.

“’n Ou waarvan ek niks gehou het nie, maar steeds gedink het dat hy ’n goeie afrigter was, is Nieu-Seeland se Laurie Mains. Ek is van mening dat hy ’n ietwat van ’n aanstootlike persoon met ’n kort humeur was, maar die wyse waarop hy spanne afgerig het, was pleinweg ongelooflik,” het Jones gesê.

“Die All Blacks het briljante rugby in 1995 gespeel, maar hulle was net nie goed genoeg in die eindstryd nie.”

Mains het destyds ook die Cats in die Super 12-toernooi afgerig, terwyl hy die Curriebeker saam met die Leeus gewen het.

  • Die voormalige All Blacks-vleuel, Nehe Milner-Skudder, beplan om sy loopbaan by die Highlanders te hervat nadat ’n skouerbesering sy speelkans by Toulon in die wiele gery het.

Hy sal vir die Nieu-Seelandse plaaslike “Superreeks” in aksie wees, terwyl hy ook vir die 2021-Superrugbyseisoen vir die Dunedin-span beskikbaar sal wees.

Atletiek:

  • Vanjaar se internasionale atletiekseisoen kan op 11 Augustus in Finland begin en met ’n Diamantliga-byeenkoms in China in Oktober eindig.

“Ons hoofprioriteit was aanvanklik om die gesondheid en veiligheid van ons atlete te verseker. Nou moet ons ’n manier vind om professionele atlete terug op die baan te kry want hul inkomste hang daarvan af,” het die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.