Vandag se sportnuus

Cheslin Kolbe. (AP Photo/Mark Baker)

Rugby:

  • Met die Olimpiese Spele wat weens die wêreldwye Covid-19-pandemie na 2021 geskuif is, het Suid-Afrika se Cheslin Kolbe ’n moeilike besluit moes neem.

Die Spele sal nou ietwat met die bepalings van die Britse en Ierse Leeus-toer na Suid-Afrika bots. Kolbe was een van die sterre gedurende verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Japan, maar sy bewese sewesvaardighede maak hom ook ’n reuse-aanwins vir Neil Powell se Blitsbokspan.

Hy het egter sy besluit geneem.

“Hoewel ek mal daaroor sou gewees het om sewesrugby vir my land by die Tokio Olimpiese Spele te speel, is die Britse en Ierse Leeus-reeks ’n gebeurtenis waarvan ek beslis wil deel wees; juis omdat dit net elke 12 jaar plaasvind,” het Kolbe in ’n onderhoud met Planet Rugby gesê.

’n Ander speler wat met ’n soortgelyke dilemma sit, is Kwagga Smith.

Die oudleerling van HTS Middelburg het saam met die Blitsbokke die bronsmedalje by die Rio-spele verower, terwyl hy ook deel van Rassie Erasmus se groep in Japan was.

As die Britse en Ierse Leeus-reeks egter na ’n latere datum in 2021 geskuif word, sal dit beslis in Powell se guns tel.

  • Intussen het jong spelers soos Johan Grobbelaar, Gerhard Steenkamp en Muller Uys aangedui dat hulle deel van Jake White se Bulls-groep sal bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.