Vandag se sportnuus

Warrick Gelant. Foto: Twitter.

Rugby:

  • Warrick Gelant het die Bulls in ’n emosionele vaarwel-video bedank vir hul bydrae tot sy loopbaan.

Die 25-jarige Springbokheelagter het sy kontrak met die Pretoria-span beëindig en sal voortaan sy rugby in die Kaap vir die Stormers speel.

“Wat ’n ongelooflike reis. Terwyl ek hierdie boodskap tik, weet ek dat daar geen ander plek is waar ek soveel oor rugby en oor myself kon leer nie. Die herinneringe wat ek saam met die span gemaak het, is van onskatbare waarde,” het hy op sosiale media geskryf.

  • Die Bulls se direkteur van rugby, Jake White, het in die media gesê dat hy in die Stormers-haker Bongi Mbonambi belangstel.

Mbonambi het skitterspel vir Rassie Erasmus gedurende verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi gelewer.

  • Intussen is ook berig dat die Springbokke se vuurvreter-slot Franco Mostert op pad na Japan is waar hy vir Honda Heat sal uitdraf.

Mostert was een van die Lions se sterre voordat hy koers na Gloucester in die Engelse Premierliga gekies het.

Gholf:

  • Sportaksie is stadig maar seker besig om weer terug te keer te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Nadat Rory McIlroy en kie. verlede week meer as $5 miljoen vir die stryd teen Covid-19 ingesamel het, het gister se liefdadigheidswedstryd selfs meer opgelewer.

Tiger Woods en Phil Mickelson het saam met die Amerikaanse voetbalsterre Peyton Manning en Tom Brady ’n ongelooflike $20 miljoen (meer as R350 miljoen) in hul liefdadigheidswedstryd in Florida ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae