Vandag se sportnuus

Nollis Marais (Foto thebulls.co.za).

Rugby:

  • Die Bulls se direkteur van rugby, Jake White, het vanoggend die res van sy afrigterspan aangekondig.

Die voormalige Springbok-afrigter het reeds verlede week aangekondig dat Russell Winter die voorspelers sal brei. Hy het vandag aangekondig dat Nollis Marais voortaan die Pretorianers se afbreekpunt-spesialis sal wees.

Marais was die Bulls se hoofafrigter in 2017.

Dan sal Joey Mongalo die verdedigingsafrigter wees nadat hy lank by die Lions betrokke was. Hy het ervaring in die Superrugby-, Curriebeker- en SuperSport-uitdaagreekse.

Volgens White is hy steeds op soek na ’n skrumghoeroe. Daan Human se Springbok-skuif het vir ’n leemte in Pretoria gesorg.

“Daan het ongelooflike werk onder die voorspelers verrig en hy sal ongetwyfeld gemis word. Ons het egter reeds met ’n paar kandidate gesels en is vol vertroue dat ons binnekort sy plaasvervanger sal kan aankondig,” het White gesê.

  • Dan het die WP-haker, Schalk Erasmus, ook die pad terug na Loftus gevind.

Die 22-jarige is ’n oudleerder van die Afrikaanse Hoër Seunskool, maar hy het vir Maties in die Varsitybeker uitgedraf.

Hy was ook ’n lid van die junior Springbokspan.

Krieket:

  • Mitchell Starc in aksie. Argieffoto.

    Indien die Internasionale Krieketraad (IKR) die gebruik van spoeg verbied om ’n krieketbal blink te vryf, sal dit vir ’n baie meer ongelyke stryd tussen kolf en bal sorg.

Só het die Australiese snelbouler, Mitchell Starc, gesê.

In die Covid-19-era word daar na verskillende opsies gekyk om die boulers te help. Die toerusting-maatskappy Kookaburra het ’n spesiale politoer voorgestel om swaaiboulwerk te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.