Vandag se sportnuus

AB de Villiers en sy vrou, Danielle, en seun, AB jr. (Foto: Instagram)

Krieket:

  • In sy speeldae het Jonty Rhodes vir baie heldedade op die krieketveld gesorg.

Hy het die posisie – net so tru van punt – sy eie gemaak en het gereeld met verstommende duikslae vorendag gekom om lopies te keer of om vangkanse te benut.

Wie sal ooit die 1992-Wêreldbeker vergeet toe hy Inzamam ul-Haq op skouspelagtige wyse in Australië uitgehardloop het? Of sy vyf vangskote in ’n eendagwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande?

Rhodes was saam met Ricky Ponting, Colin Bland en Paul Collingwood van die beste veldwerkers in wêreldkrieket. Maar, sê hy, dit is AB de Villiers wat die septer swaai as die beste veldwerker van alle tye.

“Dit is ongetwyfeld AB. Hy was ’n paaltjiewagter, kon skitterende vangskote in die glippe benut, hy het op punt veldwerk gedoen en was briljant in die buiteveld,” het Rhodes aan die krieketkommentator, Pommie Mbangwa, gesê.

“Iemand soos Engeland se Ben Stokes is ook baie goed – hy doen altyd in al die belangrike posisies veldwerk – maar AB het net ’n ongelooflike vermoë om die spel te lees.”

Rugby:

  • Die Sunwolves se avontuur in die Superrugby-reeks het vandag amptelik tot ’n einde gekom.

Die Japanse span sal nie deel van Australië se plaaslike “Super-toernooi” uitmaak nie en hulle sou in elk geval nie deel van 2021 se Superrugby-aksie gewees het nie.

Die reeks tussen Australië se Brumbies, Waratahs, Rebels, Reds en Western Force begin op 3 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.