Vandag se sportnuus

Dan Carter in sy Blues-trui. Foto: Twitter.

Rugby:

  • Die briljante voormalige All Blacks-losskakel, Dan Carter, sal vir die Blues in Nieu-Seeland se plaaslike Aotearoa-reeks speel.

Die 38-jarige het in 13 Superrugby-toernooie vir die Crusaders uitgedraf, maar kan vanjaar in Auckland in die plek van die beseerde Stephen Perofeta diens doen.

Talle kenners reken dat Carter die beste losskakel ooit is; in 141 Superwedstryde het hy 1 708 punte aangeteken. Sedertdien het hy vir Perpignan en Racing 92 in Frankryk diens gedoen. Meer onlangs het hy in Japan vir die Kobelco Steelers gespeel, maar hul seisoen het weens die Covid-19-pandemie tot ’n einde gekom.

Nodeloos om te sê was die Blues-afrigter, Leon Macdonald, in die wolke oor die ster se planne.

“Hy wil graag sy ervaring en kennis met ons jong spelers deel om sodoende in Nieu-Seelandse rugby terug te ploeg. Ons sal hom in die middeveld of op heelagter kan inspan.”

Op sy beurt sien Carter uit om weer rugby in sy geboorteland te speel.

“Die afsonderingstydperk het vir my twee dinge geleer: Eerstens dat ek mal daaroor is om tyd saam met my gesin deur te bring en dan dat ek rugby baie mis,” het Carter gesê.

Hy het egter erken dat hy vir ’n hele paar maande nie gespeel het nie, en dat dit ’n tydjie kan neem voordat hy weer wedstrydfiks is.

Die Aotearoa-reeks begin op 13 Junie en alle wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Sokker:

  • Engelse Premierliga-sokkerwedstryde word weer op 17 Junie hervat met meer as 90 kragmetings op die spyskaart.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.