Vandag se sportnuus

Shaun Pollock. Foto: Facebook.

Krieket:

  • Shaun Pollock het in 1995 sy verskyning op die internasionale krieketverhoog gemaak. Hy het vyf paaltjies in die Nuwelandtoets van sy debuutreeks teen Mike Atherton se Engelse geneem, terwyl hy ook amok in sy eerste eendagkragmeting teen die einste Engelse gemaak het.

Hy het ’n onoorwonne 66 lopies aangeteken, terwyl sy 4/34 die wedstryd vir Hansie Cronjé se span beklink het.

Pollock het ’n gedugte boulkombinasie met Allan Donald gevorm. In die 147 wedstryde (toets- en eendagwedstryde) het hulle gesamentlik 714 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22 geneem.

Ná Cronjé lewenslank uit krieket geskors is, het Pollock die kapteinsleisels by hom oorgeneem.

Volgens die Internasionale Krieketraad het kapteinskapdruk nie ’n negatiewe invloed op sy boulwerk gehad nie; veral in eendagkrieket.

Hy het 134 paaltjies as kaptein van die Proteas se eendagspan geneem. Net die legendariese Pakistan-swaaibouler, Wasim Akram, het meer paaltjies as die kaptein van sy span laat spat.

Die meeste eendagpaaltjies as kaptein van jou land:

  1. Wasim Akram (Pakistan): 158
  2. Shaun Pollock (Suid-Afrika): 134
  3. Imran Khan (Pakistan): 131
  4. Mashrafe Mortaza (Bangladesj): 102

Rugby:

  • Daar is die naweek berig dat die blitsige Bulls-vleuel, Rosko Specman, binnekort weer sy verskyning in Bloemfontein vir die Cheetahs kan maak.

Die Blitsbok-ster het in 2017 vir die Vrystaters gespeel en het glo ’n kontrak van twee jaar met hulle onderteken.

  • Intussen het die afrigter van die Britse en Ierse Leeus, Warren Gatland, gesê dat die omstrede Maro Itoje inderdaad die span na Suid-Afrika kan lei.

Sir Ian McGeechan, wat die Britte gedurende hul 2009-toer na Suid-Afrika afgerig het, het vroeër gesê die Engelse slot is sy keuse om die toerspan op die veld te lei.

“Hy is ’n intelligente man en speler, terwyl hy ’n ongelooflik suksesvolle loopbaan het,” het Gatland gesê.

Ander kapteinskandidate is Engeland se Owen Farrell en Wallis se Alun Wyn Jones.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Warren Gatland speel lekker politiek met die aanwys van die kaptein.