Vandag se sportnuus

Cecil Afrika: Die seweslegende. Foto: Twitter.

Rugby:

  • SA Rugby het gister in ’n verklaring bevestig dat die briljante spelskepper Cecil Afrika nie sy sewesloopbaan op ’n hoë noot by die Olimpiese Spele in Tokio sal afsluit nie.

Die 32-jarige Blitsbok-legende se seweskontrak verstrek aan die einde van Julie en met die wêreldwye Covid-19-pandemie wat amok onder sportbyeenkomste maak, is daar gesamentlik besluit dat sy kontrak nie weer hernieu sal word nie.

Afrika – met sy kenmerkende rastalokke – was een van die gevaarlikste spelers op die internasionale sewesverhoog.  Ná 345 wedstryde het hy ’n verstommende 1 462 punte in die HSBC-reekse aangeteken.  Hy was deel van die Blitsbokspan wat onder andere die wêreldreeks in 2017 en in 2018 gewen het; hy het ook medaljes by die Statebondspele (goud in 2014) en Olimpiese Spele (brons in 2016) verower.

Sedertdien het die huldeblyke ingestroom.

“’n Legende van die spel.  Hy was passievol, professioneel, ’n inspirasie en ’n rolmodel vir almal.  Dankie vir al die vreugde wat jy vir ons verskaf het, Cecil Afrika,” het die voormalige Bokvleuel, Bryan Habana, gesê.

Die voormalige Blitsbok-kaptein, Kyle Brown, was ook vol lof vir sy gewese kamermaat.

“Dankie vir die ongelooflike herinneringe.  Jy was die beste kamermaat ooit en ek kan nie wag vir die volgende avonture wat ons saam gaan aanpak nie,” het Brown geskryf.

Sewesafrigter Neil Powell het gesê dat dit ’n hartseerdag is om van só ’n talentvolle speler afskeid te neem.

“Cecil is een van sewesrugby se grotes en sy prestasies spreek vanself; hy het dit maklik gemaak om die sport te geniet.  Ek het saam met hom gespeel toe hy sy buiging in 2009 gemaak het en vir die afgelope paar jaar het ek die voorreg gehad om hom af te rig.  Hy was ’n begaafde speler wat meer as een keer ná ernstige beserings terugbaklei het om ongelooflike hoogtes as speler en spanlid te bereik.”

  • Intussen verwag die Blues meer as 35 000 toeskouers wanneer hulle die Hurricanes in hul openingswedstryd van die plaaslike Aotearoa-superreeks aanvat.

Met die aankondiging dat Nieu-Seeland se staat van inperking na vlak 1 skuif, word toeskouers by rugbywedstryde toegelaat.  Boonop is Beauden Barrett en Dan Carter deel van die Blues se aantrekkingskrag.

Krieket:

  • Die Wes-Indiese Eilande land vandag vir ’n toetsreeks teen Engeland. Die drie wedstryde – wat vóór Covid-19 in Junie sou plaasvind – begin nou amptelik op 8 Julie.

Die wedstryde sal agter geslote deur op die Ageas Bowl en op Old Trafford beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.